Local NewsNews

Magda Snyman groet vir oulaas

Die Snyman gesin het Saterdag 'n geliefde gesig gegroet.

POLOKWANE – Die 66-jarige Magda Snyman, vrou van Johan en ma van Elizna, Monja, Antonita en Joanita en ouma van nege kleindogters en een kleinseun, het Saterdag haar ses-jaar lange stryd teen kanker verloor.

Magda was vir baie jare betrokke by welsynsorganisasies en het ‘n besondere liefde vir kinders gehad.

Haar familie sal haar altyd onthou as ‘n vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. “Sy het orals gehelp waar sy kan. Niks was ooit vir haar te veel moeite nie.

“Sy het haar familie en vriende met alles in haar lief gehad en hulle altyd voor haarself gestel. Sy was ons gesin se rots. Haar geloof was so sterk dat selfs kanker dit nie kon vernietig nie,” sê haar dogter, Joanita.

Alta Coetzee, ‘n vriendin wie die pad vir 36 jaar saam met Magda gestap het, vertel dat Magda ses jaar gelede, op haar man se verjaarsdag, gehoor het dat sy kanker het.

“Sy het die Here gebid vir ses sabbatsjare, sodat sy net al haar kleinkinders in gr. 1 kon sien. Presies ses jaar later, op haar man se verjaarsdag, is sy oorlede. Sy het in Januarie vanjaar, op haar verjaarsdag, vir my gesê dat sy haar ses jaar gekry het en dat sy nie vir die Here nog langer tyd kon vra nie. Sy was ‘n besondere mens wie altyd gelag het en vir ander omgegee het. Sy het tweekeer kinders in pleegsorg versorg, eenkeer drie en ‘n ander keer twee kinders, benewens haar eie vier kinders. Sy was ‘n uiters gelowige mens en baie kunstig, sy kon mooi naaldwerk doen en ook teken. Sy was baie, baie lief vir haar man, kinders en kleinkinders.”

Benewens haar eggenoot, dogters en kleinkinders laat sy ook haar skoonseuns Gerald Spies, Glenn Groenwald en Christo Kuilder agter.

Die familie wil graag almal bedank wat haar tydens haar siekte bygestaan het, asook dr. Flippie van As wie haar gereeld by haar huis besoek het toe sy te swak was om self dokter toe te gaan, asook alle familie en vriende vir hulle bystand.

 

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button