POLOKWANE – Hierdie opwindende geleentheid beloof om weereens die hoogepunte te wees op die Pieties en Tommies se kalender asook die nagenoeg duisende toeskouers wat dit gaan bywoon.
Die geleentheid begin vroeg die week waar die skole op ‘n vrienskaplike basis teen mekaar meeding en heerlike samesyn geniet word.
Hierdie twee skole meet kragte in rugby, netbal, hokkie, skaak, jukskei, boogskut en sokker.
Tradisie is hier die hoofdoel en hierdie opwindende sport geleentheid word weer met trots aangebied deur die BB Motorgroep.
Boodskap uit die Tommie-hoof se kantoor
Manne – ‘n goeie reputasie is duur, maar ‘n goeie karakter is onbetaalbaar.
Maak jou skool vandag trots en speel soos die waardige ambassadeur wat jy is…
BB Group Bosveld Intervarsity is arguably the greatest schoolboy rugby tournament in Limpopo.
Play with honour and integrity but always remember – this is just a game!
Vanaf 1977-1997 het Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg 27 keer teen mekaar kragte gemeet, waarvan Tommies 14 en Pieties 11 keer gewen het – twee wedstryde het gelykop geëindig.
Vanaf 1986-1990 het Tom Naudé vyf jaar agtereenvolgend gewen en vanaf 1991-1996 het PHS ses jaar agtereenvolgend gewen.
Vanjaar spog Tom Naudé met drie Coca-Cola Cravenweekspelers, twee spelers wat opgeneem is in die PUK-span, sowel as een speler in die Coca-Cola Grant Khomo- en een in die Noordvaal-span.
Welgedaan manne.
Mag die BB Group Bosveld Intervarsity 2017 elkeen se stoutste verwagtinge oortref en mag rugby die uiteindelike wenner wees.
LABOR OMNIA VINCIT
Groete van PHS hoof Mnr. Schoeman
EK was nog altyd ‘n voorstander van tradisies, want ek glo enige skool se wortels is in sy tradisie gegrond.
By Hoërskool Pietersburg spog ons met verskeie tradisies waarvan ons wit-rugbytrui, wat dateer uit 1937, sekerlik die oudste is. Dit is tradisie op sy beste.
Vir die afgelope 80 jaar het ‘n groep van 25 seuns die voorreg gehad om die wittrui oor hulle koppe te trek. Onder hierdie seuns sorteer groot name soos Joe Kaminer (PHS se eerste Springbok), dr. Van Zyl Slabbert, Adolf Malan, Victor Matfield en Deon Fourie.
Talle ander name het op spanlyste van vooraanstaande Curriebekerspanne verskyn.
Die Bosveld Intervarsity was vir baie jare groot tradisie. In die verlede het dit vir groot opwinding in die destydse Pietersburg gesorg. Ten spyte van etlike jare se afwesigheid, kon soortgelyke opwinding verlede jaar, toe die BB Group Bosveld Intervarsity sy terugkeer gemaak het, weer ervaar word.
Soos in 1995, toe die Wêreldbeker die nasie verenig het, kry die BB Group Bosveld Intervarsity dit reg om die Polokwane-gemeenskap te verenig.
Baie welkom aan die hoof, beheerliggaam, personeel en leerders van Tom Naudé. Dit is vir ons ‘n voorreg om julle by ons te ontvang.
Woord van dank ook aan al die personeel van Hoërskool Pietersburg wat baie tyd afgestaan het om van vanjaar se BB Group Bosveld Intervarsity ‘n sukses te maak. Geniet die dag saam met ons, en mag rugby vandag seëvier.
Pietie-groete
Willie Schoeman (hoof)



