Topakteur op Kruinies se skoolbanke
Plaaslike matriekleerder, Arno Horn, is as een van Suid-Afrika se beste jong akteurs aangewys nadat hy onlangs aan die kykNET Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders in Kaapstad deelgeneem het. Die Curro Heuwelkruin-hoofseun is een van net agt toneelspelers wat genooi is om in ‘n produksie, Vlerke vir almal, te wees wat volgende jaar by die Woordfees …

Plaaslike matriekleerder, Arno Horn, is as een van Suid-Afrika se beste jong akteurs aangewys nadat hy onlangs aan die kykNET Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders in Kaapstad deelgeneem het.
Die Curro Heuwelkruin-hoofseun is een van net agt toneelspelers wat genooi is om in ‘n produksie, Vlerke vir almal, te wees wat volgende jaar by die Woordfees in Stellenbosch open. “Ek is baie opgewonde om saam met die beste in die bedryf soos Vicky Davis wat die regie behartig, te kan werk. Ons gaan tydens die Desembervakansie in Kaapstad repeteer,” vertel hy.
Meer as 500 leerders van regoor die land het vir die gesogte kompetisie ingeskryf en na uitdunrondes het die topgekeurdes oor vier rondes op ‘n uitklopgrondslag deelgeneem en die agt moes elkeen ‘n program aanbied wat uit ‘n monoloog, gedig en prosastuk bestaan het.
“My monoloog het uit die toneelstuk ‘Equus’ van Peter Shaffer gekom en handel oor ‘n man wat in ‘n inrigting beland nadat hy sy perde se oë uitgesteek het omdat hy geglo het hulle sien al die slegte dinge wat hy doen,” sê Arno.
Sy prosastuk, ‘Plaasstories’, het oor ‘n groep mans gehandel wat by ‘n braai opdaag, kompleet met Duitse rituele, en ‘n oorlogsveteraan. Sy gedig, ‘Missielpa’ het oor ‘n pa gegaan wat sy kind ongeag sy goeie prestasie aanhou druk.
Arno is aangespoor deur verlede jaar se topagt van die kompetisie wat sê die Woordfees is ‘n ideale geleentheid om raakgesien te word en baie deure in die vermaaklikheidswêreld kan oopmaak.
Hy is tans besig met klankopnames vir RSG se ‘Ratels’, ‘n jeug-vervolgverhaal uit die pen van Leon van Nierop nadat hy ‘n gasrol tydens verlede jaar se kykNET Nasionale Toneelspelkompetisie losgeslaan het. Van Nierop het Arno se talent en passie raakgesien en hom ‘n permanente rol aangebied.
Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



