Supermark trakteer senior burgers by pensioenaristee
Keurigvoorbereide toebroodjies, vars vrugte en smullekker koek het verlede Woensdag inwoners van Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes, wat deur SAVF Polokwane bestuur word, se dag opgekikker. ‘n Plaaslike tak van Pick n Pay het hierdie eetgoed tydens hul derde jaarlikse pensioenaristee voorgesit en SAVF-bestuurder, Dawie Lee, het gesê dit is verblydend om te sien hoe …

Keurigvoorbereide toebroodjies, vars vrugte en smullekker koek het verlede Woensdag inwoners van Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes, wat deur SAVF Polokwane bestuur word, se dag opgekikker.
‘n Plaaslike tak van Pick n Pay het hierdie eetgoed tydens hul derde jaarlikse pensioenaristee voorgesit en SAVF-bestuurder, Dawie Lee, het gesê dit is verblydend om te sien hoe die inwoners aan die heerlike kos smul.
Thembisile Mabunda, kliëntediensbestuurder van die supermark, het verduidelik dat bejaardes haar baie na aan die hart lê en dat hierdie liefde haar gemotiveer het om na Martha Hofmeyr uit te reik.
“Ons by Pick n Pay wil ook graag na die gemeenskap waarin ons funksioneer uitreik om mense vir hul volgehoue ondersteuning te bedank,” het sy gesê.
SAVF Polokwane se visevoorsitter, Sophia de Swart, het Mabunda en die supermark se bestuur vir hul volgehoue betrokkenheid by die tehuis bedank.
Martha Hofmeyr bied op 18 Junie ‘n Vadersdagete as geldinsameling vir die tehuis aan en Lee het ‘n beroep op die publiek gedoen om hierdie goeie saak te ondersteun.
Kaartjies is teen R110 per volwassene en R50 per kind by die SAVF-kantoor beskikbaar. Besprekings moet voor Woensdag, 14 Junie, gedoen word.
Vir meer inligting oor die ete kan die SAVF by 015 295 9077 geskakel word.
Storie en foto’s: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za




