POLOKWANE – Vir hierdie rede hou die skool jaarliks ‘n Mnr. en Mej. Oosskool kompetisie waar gr. 7-leerders ‘n welsynsorganisasie moet identifiseer en dié met benodighede help.
Twee leerders uit elke gr. 7-klas word gekies om aan die kompetisie deel te neem en twee van dié leerders, Carla le Roux en Ryno Meyer, het besluit om die DBV as hul gemeenskapsprojek aan te neem.
Hulle het onlangs ‘n Saterdag die gr. 4-groep, wat hulle met die insamelings help, na die DBV geneem om meer oor hoe die organisasie werk te leer en om met die diere te speel.
Op Dinsdag, 3 Julie het Carla en Ryno weer besoek by die DBV afgelê om nog skenkings af te gee. Ondermeer het hulle sowat 230 kg hondekos, katkos, blikkies kos, komberse en kosbakke geskenk. Vir ‘n spesiale bederf het hulle ‘n houer tuisgebakte hondebeskuitjies vir die honde geskenk.

“Ons wil graag die gemeenskap aanmoedig om ook skenkings te maak vir die DBV-winkel in Savannah Mall. Hier neem hulle enige iets as skenking en verkoop dit weer vir geld vir die DBV,” vertel Carla.
Ryno moedig inwoners aan hom hulle diere na die DBV te neem om ‘n mikro-skyfie te kry wat sal help om hul diere op te spoor indien hulle wegraak. “As jou dier ‘n mikro-skyfie het is dit soveel makliker vir die DBV om die eienaar op te spoor wanneer die dier hulle pad kruis,” verduidelik hy.
Enige skenkings vir Ryno en Carla se projek kan na die skoolvakansie by die skool afgegee word.




