Gesogte trofee se Lim-finaal in stad
Rugbyliefhebbers kan na klipharde skolerugby uitsien wanneer die Virseker Bekerreeks, voorheen bekend as die Beeldtrofee, se Limpopo hoërskolefinaal volgende naweek by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé plaasvind. Spanne van regoor die provinsie ding in die klein-, middel-, medium- en grootskole-afdeling mee. Die eerste wedstryde begin om 08:00 op die skool se A- en B-veld. Tommies …

Rugbyliefhebbers kan na klipharde skolerugby uitsien wanneer die Virseker Bekerreeks, voorheen bekend as die Beeldtrofee, se Limpopo hoërskolefinaal volgende naweek by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé plaasvind. Spanne van regoor die provinsie ding in die klein-, middel-, medium- en grootskole-afdeling mee.
Die eerste wedstryde begin om 08:00 op die skool se A- en B-veld. Tommies se sporthoof, Kobus de Meyer sê gewoonlik moet toeskouers tot aan die einde van die program wag om die eerstespanne in aksie te sien, maar dié keer is die vier eerstespanwedstryde eerste aan die beurt. Dié wedstryde word tussen Stanford Lake College en Curro Heuwelkruin (kleinskole), Hoërskool Eric Louw en Hoërskool Frans du Toit (middelskole), Hoërskool Ben Viljoen en Hoërskool Hans Strijdom (mediumskole) en Hoërskool Ben Vorster en Hoërskool Frikkie Meyer (grootskole) beslis en word deur Supersport opgeneem.
Kruinies se eerste- en o.15A-span sowel as Hoërskool Pietersburg (PHS) se o.14A- en o.16A-span is die enigste spanne in die stad wat hul staal sal wys. Kruinies se o.15A-span takel om 14:15 Stanford Lake College terwyl PHS se o.14A-span met Ben Vorster en die o.16A-span met Frikkie Meyer sal koppe stamp.
Toegang tot die enorme wedywering om die kampioene te bepaal is R20 per volwassene en R10 per kind. Leerders in skooluniform kan gratis ingaan. Eet- en drinkgoed sal te koop wees.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



