POLOKWANE – Mens sal ‘n 25-uur dag nodig kry om by te bly met Marili en al die aktiwiteite waarby sy betrokke is.
Dié veelsydige tienjarige leerder van Oosskool se jongste prestasie, is dié van Proteakleure in ringbal.
Behalwe hiervoor is sy ook lid van die skool se tweedetennisspan, sy speel netbal, is in die skool se fietsryspan, bly sy op haar tone as ballerina, bevind sy haarself gemaklik onder die akademiese top tien in haar graad, én ken sy haar storie as redenaar of waar sy die skool se revue help aanbied daar van bo die verhoog af.
Sy vertel waar haar liefde vir en belangstelling in ringbal begin het.
“Toe ek jonger was het ek gehoor my ma het ringbal gespeel en ek wou ook graag leer hoe om die sport te beoefen. Ek kon eers hierdie jaar begin speel, maar ek was so besig ek kon nooit gaan oefen het nie.”
Sy het egter wel vir die Limpopoproewe opgedaag, maar het geensins verwag om “baie ver” te kom nie en desnieteenstaande word sy vir die o/11A-span gekies.
Die nasionale proewe is in die vakansie in Nelspruit aangebied, en dis hier waar dié onontginde talent vir haar ‘n plek in die nasionale span losgespeel het.
“Dit was ongelooflik lekker om te hoor ek is gekies vir die span, maar dit was harde werk.”
Sy vertel dat ringbal, soos enige ander sportsoort, ook ‘n uitdaging of twee bied.
“Dit is baie moeilik as jou opponent vinniger en fikser as jy is. Hulle hardloop dan ver onder jou uit. Die maklikste is natuurlik wanneer jyself vinniger en fikser is,” skerts sy.
Al is dit sleg om gestamp te word en dalk seer te kry, het dit gelukkig nog nooit met haar gebeur nie, vertel sy verder.
Vir nou is ringbal en dié sportprestasie maar net een van die talle erekleurebalkies op haar skooltrui.
Hou gerus dié bedrewe jong meisie dop, sy het genoeg energie en talent om nog jare te hou.




