ATKV hou spelathon se Lim-uitdunne in stad
Die ATKV se Nasionale Spelathon se Limpopo-uitdunne het Dinsdag by Mitchell House plaasgevind. Graad 9 en 10-leerders van die hoërskole Merensky en Frans du Toit, Stanford Lake College en Mitchell House het in die Afrikaans-huistaal en -eerste addisionele taal-kategorieë meegeding. Ander provinsies se uitdunne vind later vandeesmaand plaas en die wenners neem in Oktober aan …

Die ATKV se Nasionale Spelathon se Limpopo-uitdunne het Dinsdag by Mitchell House plaasgevind.
Graad 9 en 10-leerders van die hoërskole Merensky en Frans du Toit, Stanford Lake College en Mitchell House het in die Afrikaans-huistaal en -eerste addisionele taal-kategorieë meegeding. Ander provinsies se uitdunne vind later vandeesmaand plaas en die wenners neem in Oktober aan die finaal in Johannesburg deel.
In die graad 10-huistaalafdeling is Janco Bezuidenhout van Hoërskool Frans du Toit die wenner, terwyl Melike Naudé van Stanford Lake College eerste in die graad 10-eerste addisionele taalafdeling was. In die graad 9-groep was Minke Lombard van Hoërskool Merensky die wenner in die huistaalafdeling en Danca Altenroxel van Stanford Lake College die wenner in die eerste addisionele taalafdeling.
Deelnemers is eers op hul gemak geplaas met maklike woorde soos koopsom, deurkruip en hoenderhokke waarna moeiliker woorde soos koggelmander, hardekoolboom, oopgeforseer en pretbederwer gevolg het.
René Zietsman, projekorganiseerder van die ATKV sê dat sy verras was deur die hoë standaard. “Dit was baie beter as verlede jaar en Hoërskool Frans du Toit het boonop by ons aangesluit. Hopelik neem meer skole volgende jaar deel omdat afdelings vir graad 8-leerders ook aangebied word.”
Sakhiwe Shezi van Mitchell House, wat in die graad 9-eerste addisionele taalafdeling deelgeneem het, aan Polokwane Observer gesê dat die kompetisie ‘n opwindende ervaring was. “Ek kon dit nie glo toe ek die tweede plek in die afdeling behaal het nie, dit was fantasties.”
Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com








