PHS se Kardoesie behoort aan graad 12’s
‘n Kakofonie van klank, kleur en kontras het hom uitgespeel toe leerders van Pietersburg Hoërskool (PHS) mekaar Dinsdagaand tydens die jaarlikse kragmeting tussen grade die stryd aangesê het. Tydens Kardoesie ding die vyf grade se leerders mee vir die groot prys – ‘n pop geklee in PHS uniform – wat ingevolge volgehoue tradisie aan die …

‘n Kakofonie van klank, kleur en kontras het hom uitgespeel toe leerders van Pietersburg Hoërskool (PHS) mekaar Dinsdagaand tydens die jaarlikse kragmeting tussen grade die stryd aangesê het.
Tydens Kardoesie ding die vyf grade se leerders mee vir die groot prys – ‘n pop geklee in PHS uniform – wat ingevolge volgehoue tradisie aan die span gaan wat onder meer met hul tema, lyndans en kreet uitstaan.
Vlugvoetige danspassies en heupswaaimusiek op die pawiljoen het die beoordelaars beïndruk, maar dit was die verdedigende graad 12-groep wat vir die agtereenvolgende jaar met die trofee huis toe is.
Vanjaar se program het met die graad 11-groep begin wat die Spaanse tema in rooi en swart uitgebeeld het, waarop die graad 9-leerders hul weergawe van die Olimpiese Spele vertoon het.
Die graad 10-groep het met ‘Get the Message’ en treffende kleurvolle uitrustings wat sosiale media-boodskappe voorgestaan het, die res van die skool aangevat.
Die graad 8’s se slaankrag het in hul rooi-en-wit lewensreddertema gelê, wat uitgelig is met die gebruik van reuse opblaashaaie en reddingsboeie.
Vir die seniors het die uitlewing van hul ‘School Of Rock’-keuse, hul dirigente in ‘bling’-kostuums en ‘n oorverdowende kreet onder meer ‘n globale 85%-wenplek verseker.
En só was die koue wat deur murg en been gesny het summier iets van die verlede.
Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com













