Frederick Fourie slaan beurs by New York Film Academy los
‘n Blink kultuurster van Curro Heuwelkruin, Frederick Fourie, is een van slegs tien uitvoerende kunstenaars wat ‘n studiebeurs van die hoogaangeskrewe New York Film Academy losgeslaan het toe hy in Julie aan die Actors, Models and Talent for Christ (AMTC) Shine Convention in Orlando, Florida deelgeneem het. Die 15-jarige graad 10-Kruinie is uit 500 deelnemers …

‘n Blink kultuurster van Curro Heuwelkruin, Frederick Fourie, is een van slegs tien uitvoerende kunstenaars wat ‘n studiebeurs van die hoogaangeskrewe New York Film Academy losgeslaan het toe hy in Julie aan die Actors, Models and Talent for Christ (AMTC) Shine Convention in Orlando, Florida deelgeneem het.
Die 15-jarige graad 10-Kruinie is uit 500 deelnemers gekies om volgende jaar die akademie se somerskool van vier weke by te woon en na skool by dié beroemde kunsskool te studeer.
“Hy is ook met die gala-aand deur die Suid-Afrikaanse span as die mees getransformeerde akteur aangewys en het drie ‘call backs’ van agente en musiekvervaardigers ontvang onder wie King Logan, ‘n suksesvolle musiekvervaardiger. Hy is selfs gekies om saam met ‘n Amerikaanse gospelkoor tydens die gala-aand op te tree. Benewens sang het hy ook toneel gespeel en modelwerk gedoen,” sê sy trotse ma, Marina.
Frederick het in 2015 beoordelaars van die South African Talent Championship (Satch) se nasionale ronde in Midrand se monde laat oophang en verskeie toekennings tydens dié kompetisie, waar deelnemers van regoor die land aan items soos modelwerk, toneelspel, dans, instrumentale opvoerings en sang deelneem, verwerf.
Hy het goue toekennings vir die opesolo- (87%), popsolo- (86%), rocksolo- (86%), Afrikaanssolo- (88%) en liedjieskrywerkategorieë (87%) ontvang en ‘n platinumtoekenning (90%) vir sy gospelsolo by sy prestasies gevoeg en die algehele eerste plek in die liedjieskrywerskategorie gewen. Hy het ook algeheel tweede in die Afrikaans- en gospelsolo-afdelings gekom.
Die talentvolle tiener is by hierdie kompetisie reeds vir die AMTC Shine Convention gekies, maar het destyds in ‘n onderhoud met Polokwane Observer gesê sodra ‘n mens vir die konvensie gekies is, kan jy enige tyd gaan en het eers gewag dat sy stem breek.
Die byeenkoms is ‘n sesdagkongres wat jaarliks aangebied word om mense met godgegewe talente in direkte kontak met professionele mense in die vermaakindustrie te bring. Die kunstenaars word deur seminare en onderhoude voorberei om die sendingveld te betree of om rolmodelle te wees in ‘n wêreld wat navolgbare modelle bitter nodig het.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



