Pieties, Tommies haal uit op krieketveld
Plaaslike skole is tans weekliks in ‘n taai stryd gewikkel met die krieketliga se finale wedstryde wat einde se kant toe staan om die uiteindelike Limpopo-kampioene te bepaal. Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se o.15-span het onlangs vir Hoërskool Ben Vorster met nege paaltjies laat les opsê. Vossies was eerste in die kolfkampie en kon …
Plaaslike skole is tans weekliks in ‘n taai stryd gewikkel met die krieketliga se finale wedstryde wat einde se kant toe staan om die uiteindelike Limpopo-kampioene te bepaal.
Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se o.15-span het onlangs vir Hoërskool Ben Vorster met nege paaltjies laat les opsê. Vossies was eerste in die kolfkampie en kon slegs 95 lopies aanteken waarop Tommies met sewe paaltjies staande geantwoord het.Maritz Claassens en JP Venter is onderskeidelik as beste kolwer en bouler aangewys. JP het vier paaltjies vir slegs elf lopies laat kantel.
PHS se vier spanne het gewys dat opponente twee keer moet dink voordat hulle aangevat word. Die o.19-meisiespan het met 109 lopies teen Mahwelereng Secondary School gewen terwyl die o.15A- en B-span en die eerstespan hul onderskeie wedstryde met wegholseges van 126, 285 en 397 lopies teen Hoërskool Frikkie Meyer en Hoërskool Piet Potgieter gewen het.
Curro Heuwelkruin se eerstespan was Saterdag nie so gelukkig nie nadat Stanford Lake College (SLC) met nege paaltjies stof in die Kruinies se oë geskop het.
Kruinies het eerste hul paaltjies beskerm en 81 lopies aangeteken, maar SLC het tydens hul beurt voor die paaltjies die Kruinies se telling in die sestiende beurt verbygesteek.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com






