POLOKWANE – Dié donkerkopdame, wat diep in haar kleuters se harte ingekruip het, het die nuwe uitdaging aangepak, na die vorige eienaar, Charlotte Steele, die kleuterskool verkoop het om saam met haar man, Jimmy, na Mokopane te verhuis waar hy ‘n pos aanvaar het.
“Ek het gehoor dat Charlotte die huis en die besigheid wil verkoop. ‘n Paar maande later het ek en my man, Jurgens, besluit om ‘n aanbod te maak vir die huis en skool en alles het so uitgewerk dat ons hier kon intrek,” vertel sy.
Leani, wat voorheen by Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum gewerk het, is ‘n ma van drie wat na die nuwe uitdaging uitsien.
“Ek het as jong kind baie skool-skool gespeel, maar as gevolg van omstandighede, het ek in die bankwese opgeëindig na skool. Kinders was egter nog altyd my passie en nadat die lewe met my verskillende draaie geloop het, het ek by Stimilus Maksima beland.
“Hier het ek geleentheid gehad om verskillende kursusse te doen. Na agt jaar is ek na Osieteddies waar ek vir vier jaar ‘n klas gehad het,” vertel sy.
Volgens Leani is sy gelukkig om in staat te wees om ‘n goed gevestigde kleuterskool te kan oorneem.
Babbelbekkies is ‘n Afrikaanse Christelike Skool wat tans 15 kleuters het. Die skool voorsien nie etes nie, ouers moet dus kosblikke voorsien.
“Dit is ook net ‘n halfdagskool. Ons neem kinders in nadat hulle van die doeke af is tot vyf jaar oud. Ek gaan voortbou op die leerprogramme wat reeds in werking is.
“Charlotte se assistent werk ook al vir jare hier en sy is nou my regterhand. Sy is eintlik meer van ‘n onderwyseres as ‘n assistent. Ons kinders kry individuele aandag en ons doen al die vaardighede met hulle.
“Dit wil sê ons doen kognitiewe ontwikkeling asook fyn- en grootmotoriese ontwikkeling. Daar is heeltyd interaksie met die kinders en ek is heeltyd by hulle betrokke. Ons glo in leer-leer speel, dus leer hulle die heeltyd,” sê sy.
Sy deel dat sy intussen in haar diploma in onderwys afgehandel het en beplan om verder te studeer.
“Ek wil volgende jaar fokus op Montessori-onderrig. Ek geniet die kinders. Dit is lekker om te sien hoe hulle iets bemeester.
“Nog ‘n lekkerte is wanneer ouers na my toe kom en vertel hoe hul kinders gegroei het. Ek beplan om dalk in Desember ‘n vakansieprogram ook aan te bied,” vertel Leani.




