MOKOPANE – Om 11:00 is die skoolklok gelui en almal het aangemeld vir opening waar Pastoor Martin Ferreira (‘n oud-leerder van HPP) ‘n boodskap gelewer het.
Jimmy Steele, Skoolhoof, het ook vir ‘n minuut stilte gevra vir alle oud-leerders en personeel wat gedurende die afgelope 75 jaar oorlede is.
Jas Hansen, Skoolhoof van 2005 tot 2015, het ‘n kers aangesteek ter nagedagtenis, terwyl die “Last Tapto” op trompet gespeel is deur Cobus Bekker (Voorsitter van die Beheerliggaam).

Carools Reinecke (seun van ‘n oud-skoolhoof, Reyneke (1947 – 1960) het ook ‘n paar staaltjies van sy oorlede pa met die gehoor gedeel.
Hy het die huldeblyk wat in 1960 deur die beheerliggaam en ouers aan sy pa geskenk is, aan die skool oorhandig.

Daarna is die 75-jarige gedenkembleem, geskenk deur die 1997-matrieks en stigterslede van die Bond van Oud-Potties, deur Steele en Bekker onthul en dit pryk pragtig teen die noordelike muur van die skoolsaal.

Daar is ‘n draai gemaak in die hoof se kantoor vir die wat dalk baie tyd daar spandeer het op skool en ook vir diegene wat dalk nooit die ‘voorreg’ gehad het nie. Die gaste is daarna na die Strelitzia Restaurant waar hulle oor ‘n koppie koffie gekuier en stories uitgeruil het.
Om 15:00 het die eerste rugbywedstryd afgeskop tussen HPP Old Boys en Potties Dorp se B-spanne.

Potties Dorp het die wedstryd gewen.
Om 16:00 het HPP Old Boys en Potties Dorp se A-spanne mekaar die stryd aangesê terwyl die reën geval het. Die wedstryd moes ongelukkig gestop word weens die swaar weer, maar HPP Old Boys het as wenners uit die stryd getree omdat hulle die enigste drie van die wedstryd aangeteken het.
‘n Gesellige braai is gehou en almal het tot laataand in die Pierneefsaal gekuier.
Die skool bedank elkeen wat die dag saam met hulle meegemaak het en sê dat die 75-jarige gedenkalbum teen R100 by die skool te koop is.
Die oomblikke is op kamera deur Bosveld en Helena Kockott vasgevang.




