Local NewsNews

Veediefstal steeds aan’t toeneem

Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum versoek dat alle rolspelers in die rooivleisbedryf dringend 'n aktiewe rol begin speel om veediefstal te bekamp.

LIMPOPO –  Die publiek word ook versoek om veeboere by te staan in die stryd teen veediefstal.

Die nasionale misdaadstatistieke wat op 24 Oktober deur die polisie beskikbaar gestel is, is deur die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum geanaliseer en die volgende inligting is van belang. Veediefstal het op nasionale vlak met 8,8% gestyg. Hoewel dié styging as dramaties beskou kan word, is die redes daarvoor onbekend. Dit mag weens ‘n werklike stying in veediefstalsake wees, of dit mag wees dat die slagoffers dit net meer aanmeld.

Noordwes het die grootste styging getoon. In 2015/16 is 2 605 gevalle aangeteken en in 2016/17 het dit met 22,5% tot 3 192gestyg.

Noordwes word gevolg deur Mpumalanga en Gauteng. Limpopo lê vierde met 1 756 gevalle in 2015/16 en 1 956 wat in 2016/17 aangeteken is. Dit is ‘n styging van 11,4%. In totaal is 26 902 veediefstal gevalle landwyd in 2016/17 aangeteken. Dit dui op ‘n styging van 2 187 in vergeleke met die 24 715 wat in 2015/16 aangemeld is. Die polisiestasies wat ‘n toename van meer as 50% getoon het was Kwa-Mhlanga in Mpumalanga met 171,2% en Phokeng in Noordwes met 149%. Matlala in Limpopo lê onder aan die leer van die sewe provinsies met 56,8%.

Statistieke Suid-Afrika het in 2011 gerapporteer dat 36,3% van veediefstalsake nie deur die slagoffers aangemeld word nie. In 2012 het dié syfer tot 40,1% gestyg en in 2013 het dit drasties tot 63% gestyg.

Dié verskynsel is nie in 2014 se opname geëvalueer nie. Lombaard (2014) het egter bevind dat 75% van die diefstal van skape in die Vrystaat nie aangemeld word nie.

Dié syfers word bevraagteken omdat inligting van die provinsies daarop dui dat die nie-aanmelding van sake tans so hoog as 80% tot 85% is. Statistieke Suid-Afrika het in 2015 bevestig dat die nie-aanmelding van sake tot 67,7% en tot 70,1% in 2016 gestyg het. Die 2017-opname het nie die nie-aanmeldingkoers in berekening gebring nie.

Aan die hand van die beskikbare inligting en gesien in die lig van die feit dat die feesseisoen en die plantseisoen op hande is, versoek die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum die volgende:

• Alle vee-eienaars moet ‘n unieke identifikasie merk (brand- of tatoeërmerk) in hul name registreer en dit op alle vee in hul besit aanbring op die voorgeskrewe manier soos omskryf in die Wet op Diere-identifikasie, Wet 6 van 2002.

• Die voltooiing en indiening van die ‘dokument van identifikasie’ en die veeverwyderingsertifikaat met alle transaksies is belangrik.

• Alle veekopers, afslaers, voerkrale en abattoirs moet vee-eienaarskap bevestig en weier om vee te aanvaar wat nie gemerk of waar die identifikasiedokument of veeverwyderingsertifikaat nie voorsien word nie.

• Alle identifikasiedokumente moet vir 12 maande op rekord gehou word.

• Vee-eienaars moet hulle vee gereeld tel en nie gedurende die plantseisoen ophou om dit te doen nie. As verliese eers ná die plantseisoen ontdek word, is dit heeltemal te laat om iets daaraan te doen.

redakteur.bovelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button