Vermeende vragmotordief vasgetrek deur Suricat
'n Man wat vermoedelik 'n vragmotor wou steel is Maandagmiddag deur Suricat Sekuriteit se reaksie-offisiere aan die polisie oorhandig.
MOKOPANE -Carl Compaan, reaksie-offisier van Suricat Sekuriteit, sê ‘n inwoner het hulle kantoor gekontak en gesê hulle het twee verdagte mans opgemerk wat lyk asof hulle ‘n vragmotor wou steel.
“Ek het dadelik na die toneel gehaas en een van die verdagte mans in die vragmotor betrap. Hy het gevlug en ek het hom by die biblioteek se palisades in Ruiterweg vasgekeer en gearresteer,” sê Compaan.
Hy sê hulle het met nadere ondersoek vasgestel dat daar wel twee verdagtes was. Die verdagtes het klaarblyklik die vragmotorbestuurder vanaf ‘n inkopiesentrum agtervolg en agter die vragmotor gestop toe die bestuurder gaan kos koop het. “Die man wat ons gevang het is aan die polisie oorhandig en ‘n klag van diefstal word ondersoek. Die tweede verdagte is nog op vrye voet.”
Volgens sers. Irene Masingi, Mokopane Polisie Woordvoerder, is die man in hegtenis geneem en sal hy binnekort in die Mokopane Landdroshof verskyn.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za




