Kruinies Rugbyklub werk hard in voorseisoen
Gemengde welslae is Saterdag op Curro Heuwelkruin se rugbyveld behaal toe Kruinies Rugbyklub tydens ‘n vriendskaplike kragmeting onderskeidelik teen die Universiteit van Limpopo (UL) se tweedespan en Louis Trichardt Rugbyklub se eerstespan op die veld gedraf het. Kruinies Rugbyklub-president, Eben Lingenfelder sê die klub het drie vriendskaplike wedstryde in aanloop tot die jaarlikse rugbyseisoen beplan. …

Gemengde welslae is Saterdag op Curro Heuwelkruin se rugbyveld behaal toe Kruinies Rugbyklub tydens ‘n vriendskaplike kragmeting onderskeidelik teen die Universiteit van Limpopo (UL) se tweedespan en Louis Trichardt Rugbyklub se eerstespan op die veld gedraf het.
Kruinies Rugbyklub-president, Eben Lingenfelder sê die klub het drie vriendskaplike wedstryde in aanloop tot die jaarlikse rugbyseisoen beplan. “Ons het verlede naweek teen Hoedspruit gespeel en beplan om Saterdag teen Letaba Rugbyklub uit te draf. Die vriendskaplike wedstryde dien as proewe sodat ons die beste spelers in sleutelposisies op die veld kan gebruik.”
Kruinies se Young Guns (tweedespan) het 22 elk gelyk op teen UL gespeel terwyl die Old Boys (eerstespan) 32-14 teen Louis Trichardt verloor het.
“Ons het nietemin goeie hoop vir die Boet Fickliga-reeks. Ons is ‘n nuwe klub en spelers is lus om hulself te bewys,” sê Lingenfelder.
Kruinies Rugbyklub is verlede jaar gestig nadat Pietersburg Dorp- en Dendron Rugbyklub ontbind het. “Ons het die behoefte vir nog ‘n klub in die stad raakgesien en borge het aan boord gekom. Die spelers is baie opgewonde oor die komende seisoen en oefen hard om hul stempel af te druk.”
Diegene wat belangstel om by die klub aan te sluit, kan Dawie Marais by 076 164 1309 skakel.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com







