Nuwe vriende na slangbyte
Die vyfjarige Dawid du Plessis van Lephalale wat in Januarie deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik is, het Dinsdag in die Mediclinic Midstream in Pretoria vir die jongste slagoffer van dieselfde slangspesie, Johan Emmenes (8) van Mokopane gaan kuier. Johan se ma, Hestia sê dit was ongelooflik om die twee vegtertjies saam te sien omdat hulle …

Die vyfjarige Dawid du Plessis van Lephalale wat in Januarie deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik is, het Dinsdag in die Mediclinic Midstream in Pretoria vir die jongste slagoffer van dieselfde slangspesie, Johan Emmenes (8) van Mokopane gaan kuier.
Johan se ma, Hestia sê dit was ongelooflik om die twee vegtertjies saam te sien omdat hulle kan saampraat oor hulle nare ondervindings. “Ons is baie gelukkig dat Johan se herstelproses so goed verloop en dat daar waarskynlik geen komplikasies is nie, maar is innig jammer vir Dawid wat sy ringvinger verloor het en hoop om die familie te kan bystaan en ondersteun,” sê Hestia.
Die Laerskool Krugerpark-leerder was Dinsdag weer in die teater sodat die wonde skoongemaak kon word en volgens Hestia het die dokter glo die snitte wat onder sy arm en op sy hand gemaak is, toegewerk. Slegs die snit by die bytmerk is nog oop.
Johan is verlede Dinsdag omstreeks 22:00 in sy bed by hul huis op ‘n plaas buite Mokopane gepik. Die gesin het dadelik met hom na Mediclinic Limpopo gejaag waar personeel hom teen 00:30 begin behandel het en hy tien ampulle teengif toegedien is. Voordat hulle hom vroeg Woensdagoggend na ‘n hospitaal in Tzaneen oorgeplaas het, is hy nog ses ampulle gegee. Sy arm was baie geswel en die dokter het ‘n snit by die bytmerk, onder sy arm en bo-op Johan se hand gemaak. Die weefsel by die bytmerk en in sy hand het toe reeds swart verkleur, volgens Hestia.
Johan is Woensdag in Pretoria geopereer. “Ek het besef dit is ‘n wonderwerk toe die dokter uit die teater kom en sê hy het baie min dooie weefsel by die bytmerk verwyder en daar was daar geen teken van verrotting nie. Ons is op minstens ses maande herstelproses voorberei en vandag, ‘n week later, kan ons nie glo hoe goed Johan vorder nie,” sê sy.
Johan is steeds in die intensiewe sorgeenheid, maar kan moontlik volgende week na ‘n ander saal geskuif word, maar daar is nog nie sprake dat hy ontslaan gaan word nie.
Dawid is Dinsdagaand, 23 Januarie, deur ‘n Mosambiekse spoegkobra wat ook in sy bed was, op die hand gepik. Die gesin bly op ‘n hoewe buite Lephalale. Hy is eers na Mediclinic Lephalale gehaas en twee dae later na Netcare Montana-hospitaal oorgeplaas waar hy dieselfde aand geopereer is.
Dawid moes ook ‘n bloedoortapping ondergaan, maar die skade aan weefsel was te veel en sy ringvinger is vroeg in Februarie geamputeer waarna hy later ontslaan is.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



