Local NewsNews

Kleuterskoolma-rol pas vir Lindie Peens perfek

Waneer dit by ma-speel kom neem Lindie Peens, eienaar van Ortloff's Kindergarten en swemskool, haar rol ernstig op, nie net met haar eie kinders nie, maar ook met die kleingoed wat op haar skoolterrein rondhardloop.

MOKOPANE – Met Moedersdag wat Sondag gevier word het Bosveld met Lindie (52) , ‘n dinamiese vrou en trotse ma van vier kinders, Pieter, Helene, Nadia en Misha gesels. Sy is ook ‘n ouma van een kleinkind.

Sy beskryf haarself as ‘n plaasnooi wat nog al die jare in Mokopane bly en grootgeword het saam met haar drie sussies en een broer.

“Ek het altyd geglo dat ek nie in Mokopane sal bly nie, maar ver weg sal trek, maar toe ontmoet ek my man, Pierre, hier en die koeël was deur die kerk.

Die Peens gesin, Nadia, Lindie, Pierre, Misha, Helene en Pieter.

“Nou is ek geseën met ‘n uitstekende man en wonderlike kinders wat my hart vinniger laat klop. Ons wou altyd ses kinders gehad het, maar het toe besluit om by vier te bly.”

Lindie, vertel haar liefde vir kinders kom reeds van jongs af. “Toe ek klein was het ek vir my ma gesê dat ek eendag ‘n juffrou wil word.”

So gesê en so gedaan en vandag spog sy met ‘n onderwysgraad agter haar naam wat sy aan die destydse Normaal Kollege (NKP) in Pretoria verwerf het.

Na die geboorte van haar eerste drie kinders het sy haar droom bewaarheid en ‘n kleuterskool op die dorp oopgemaak.

“Ek is gelukkig, want die eerste kinders in my skool was my eie drie en my skoonsuster se drie. Ek glo dat die eerste ses jaar van ‘n kind se lewe die belangrikste is, want dan is hul soos ‘n spons en neem dinge vinnig in. Ek is bly dat ek my kinders gedurende daardie tyd self kon leer.”

Lindie vertel dat sy die kinders by haar skool soos haar eie behandel en dat sy ‘n spesiale sagte plek vir die jongstes het.

“Ek is mal oor almal, maar die babatjies is my gunsteling.

“Hulle is ook baie lief vir my en dit maak nie saak of ‘n kind my reeds gesien het die dag nie, hulle sal my aanhou drukkies gee.”

Sy vertel dat daar nie ‘n dag verbygaan waarin sy nie godsdiensonderrig doen nie.

“Dit is belangrik en gee my gerustheid. Dit bring ook stilte in my hart.”

Liefdadigheid lê Lindie en haar man ook na aan die hart en Sondae deel hulle graag kospakkies uit aan die in nood.

“Ons glo daarin om kinders wat in slegte omstandighede leef ‘n kans te gee om iewers te kom.

“Pierre geniet atletiekafrigting en het al talle behoeftige kinders by ons laat eet.

“Ek het ook ‘n kind wie se ouers in ‘n ernstige motorongeluk was vir ‘n jaar by ons laat bly. Ons gee nie om om ‘n ander, veral kinders, te help waar ons kan nie. Ons het ook ‘n skool in Sekgakgapeng oorgeverf en met basiese toerusting soos stoele gehelp.

“Ek wil nie eintlik spog met dit nie, ek is nie so mens nie.”

Lindie glo balans is nodig in jou lewe.

“Ek dink dat as jy eers kinders het, is dit maklik om jou man laaste te stel en al jou aandag aan jou kinders te gee.

“Toe ek besluit het om my skool oop te maak het dit met tye gevoel asof ek wil opgee, maar my man het my bygestaan en aanhou glo in my.

“Dit het op ‘n tyd te veel geraak aangesien ek die skool en my kinders het om na om te sien, maar nou pluk ek die vrugte.

“Daar was ook ‘n tyd wat ek fisies siek geraak het en net teruggestaan het en besef het dat ek myself as vrou uitgebrand het.

“Nou maak ek seker dat ek ook ‘n bietjie ‘me-time’ inkry en rustig raak. Ek spring gereeld in my kar en ry net. Dit is vir my soos terapie,” lag sy.

Lindie glo sy het dit reggekry om ‘n goeie ma vir haar kinders te wees.

“Omdat ek self van gr. 1 in ‘n koshuis was, het ek besluit ek gaan my kinders grootmaak om selfstandig te wees en dinge op hul eie te kan doen. Hulle is vandag so. Hulle was al baie keer kwaad vir my as ek hulle nie help met take nie, maar ek is nie daárdie tipe ma nie.

“Ek dink ook om kinders groot te maak met familie wat altyd betrokke is, is ‘n pluspunt. So voel hulle dat hulle iemand het om op terug te leun en ondersteuning het.”

Haar lewensmotief is om elke dag te kan lag en haar vreugde te behou.

“Jy moet tyd maak om te lag. Ek glo ook dat alles deur liefde gebeur. Liefde is nie ‘n dooie ding nie, dit is ‘n werkwoord. Ek het ook geleer om nie elke dag op te staan en vas te kyk in die dinge wat jy nie het nie, of graag wil hê nie, maar eerder om dit wat jy reeds het raak te sien.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button