Drie slapende kinders met kapmes afgemaai, vrou doodgesteek
Terwyl Suid-Afrika aan die begin van Vrouemaandvieringe staan, het die polisie hul kommer uitgespreek oor twee voorvalle van beweerde gesinsgeweld wat tot ‘n bloedbad gelei het nadat ‘n vrou glo met mes doodgesteek en drie kinders na bewering met ‘n kapmes in twee afsonderlike voorvalle afgemaai is. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die …

Terwyl Suid-Afrika aan die begin van Vrouemaandvieringe staan, het die polisie hul kommer uitgespreek oor twee voorvalle van beweerde gesinsgeweld wat tot ‘n bloedbad gelei het nadat ‘n vrou glo met mes doodgesteek en drie kinders na bewering met ‘n kapmes in twee afsonderlike voorvalle afgemaai is.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die provinsiale kommissaris beide voorvalle veroordeel en sy misnoeë oor voortslepende geweld tussen egpare en families uitgespreek.
Ngoepe sê familie het Sondag op die lyk van ‘n 35-jarige man in sy huis in Mandala-nedersetting naby Thohoyandou afgekom wat hom glo opgehang het. Die polisie het bevind dat die man se voertuig soek is en dat daar geen teken van sy vrou is nie. Die voertuig met sy vrou binne is later die dag in die bos naby Thathe-nedersetting in dieselfde omgewing gevind. Sy is verskeie kere met ‘n mes gesteek en die beweerde moordwapen is op die toneel gevind.
Hy sê die oorsaak wat na die dood van beide gelei het is nog nie duidelik nie, maar gesinsgeweld kan nie uitgesluit word nie.
In die tweede voorval het Samuel Mandou glo sy vrou Saterdag van ontrouheid beskuldig en gereken dat hy nie hul drie kinders se biologiese pa is nie. Hy het glo sy vrou met ‘n skerp voorwerp in die huis rondgejaag voordat sy daarin kon slaag om te ontsnap en hulp te gaan soek waarna Mandou glo die drie kinders in hul kamer waar hul geslaap het met ‘n kapmes vermoor het, volgens Ngoepe.
Die polisie is ontbied en Mandou is op die toneel gearresteer en het Maandag vlugtig in die Dzanani landdroshof op drie aanklagte van moord verskyn. Hy bly in aanhouding
tot sy volgende verskyning in September. Die kinders is as Tshilidzi (7), Thabo (6) en Olugaho (2) geïdentifiseer.
Ngoepe het ‘n beroep op egpare gedoen om eerder professionele hulp te soek voordat soortgelyke voorvalle tot die uitwissing van gesinslede lei.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



