Maak jou praatjies, want Michelle (9) wil brei!
Terwyl sy wag dat ons kan gesels, sit Michelle Cross nie soos ander negejariges op haar, of haar ma se selfoon en speletjies speel nie. Nee, sy sit en brei.
POLOKWANE – Deesdae hoor ‘n mens nie meer van kinders wat brei nie, nee, dié stokperdjie word eerder vir hulle oumas gelos. Michelle het egter besluit dat sy nie net wil brei nie, maar ook vir hekel en borduurwerk wil doen.
Michelle is as een van ‘n tweeling gebore, maar haar sussie is kort na hulle geboorte oorlede. Haar ma, Diana, vertel: “Hulle was vroeggebore, en die dokters het nie gedink Michelle gaan oorleef nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir hierdie jongste kind van my.” Diana vertel dat sy betrokke is by ‘n hekelgroep in die stad en ook by breiprojekte. “Ek is ook betrokke by die Heart Drive/Heart Cycle waar ons liefdadigheidswerk doen. Daar is nou ‘n Heart Drive Juniors, waar die kinders inspring en werk.” Michelle vertel dat sy daarvan hou om haar ma te help.
“Ek wil graag komberse brei vir die oom en tannies wat warm moet kry. Ek het al een kombers klaar.” Die komberse wat sy brei is lappieskomberse wat bestaan uit gebreide of gehekelde lappies van 15×15 cm groot. Michelle vertel dat enige iemand kan help brei. “Of hulle kan vir my wol skenk. Enige kleur en enige tipe wol. Ek wil soveel komberse as wat ek kan vir die ooms en tannies gaan gee.”
Michelle word tuisonderig en is lief daarvoor om te lees. Sy help ook graag om te sorg dat hul diere op die kleinhoewe versorg is.




