Noordjieland verwelkom nuwe hoof
Marené van Deventer het Maandag amptelik die leisels as nuwe hoof van Noordjieland Pre-primêre Skool oorgeneem en is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging in haar loopbaan in die onderwys. Sy volg Noeline Jordaan, wat verlede jaar afgetree het, op. Van Deventer is ‘n ou bekende by die skool en was die afgelope 10 jaar …

Marené van Deventer het Maandag amptelik die leisels as nuwe hoof van Noordjieland Pre-primêre Skool oorgeneem en is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging in haar loopbaan in die onderwys. Sy volg Noeline Jordaan, wat verlede jaar afgetree het, op.
Van Deventer is ‘n ou bekende by die skool en was die afgelope 10 jaar een van die klasonderwysers en het sedert September 2018 as hoof waargeneem.
Sy vertel dat sy nog steeds gaan klasgee aangesien sy ‘n passie daarvoor het. “Dit is vir my wonderlik om te sien hoe ‘n onseker en skugter kleuter groei en ontwikkel tot ‘n individu en van my eerste leerders is nou al in die hoërskool waar ek hulle loopbane belangstellend volg,” sê sy.
Volgens Van Deventer loop sake vlot by die skool en het sy geen planne om ingrypende veranderinge aan te bring nie. “Ek het ‘n goeie span en gaan nie aan iets verander wat werk nie,” sê sy.
Sy is getroud met Hannes en die egpaar het twee dogters, Nieke (6) en Hané (8). “Ek het nie ‘n stokperdjie nie want ek wy al my vrye tyd aan my gesin en maak ‘n punt daarvan om kwaliteit tyd saam met hulle deur te bring,” vertel sy.
Storie en foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



