Bosveld Intervarsity-voorprogram sorg steeds vir opwinding
Alhoewel daar vanjaar geen rugbykragmeting tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS) was nie, het die Bosveld Intervarsity se voorprogram steeds vir goeie sportmangees en opwinding gesorg. Verlede week se program het soos vorige jare voortgegaan toe dié twee skole mekaar in hokkie, netbal, sokker, skaak, boogskiet, jukskei en gholf die stryd …

Alhoewel daar vanjaar geen rugbykragmeting tussen Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en Hoërskool Pietersburg (PHS) was nie, het die Bosveld Intervarsity se voorprogram steeds vir goeie sportmangees en opwinding gesorg.
Verlede week se program het soos vorige jare voortgegaan toe dié twee skole mekaar in hokkie, netbal, sokker, skaak, boogskiet, jukskei en gholf die stryd aangesê het. Alhoewel al die punte teen druktyd nie bekend was nie wou dit voorkom of PHS tog die oorhand in alle sportkodes gekry het.
Die week is Vrydag met die skool se gholfdag by die Polokwane Gholfklub afgesluit wat ‘n vertoning van Afrikaanse sangers Jay en Lianie May ingesluit het.
Die gholfdag is deur 132 spelers ondersteun met die span van Edwin Mckays, Deon du Toit, Zack Meyer en Lauren du Toit wat as wenners gekroon is. Die span van Randall Jooste, Joe Mackays, Phil Mashakane en Charles Mara was tweede.
Freek van den Berg en Johan Geldenhuys het pryse vir die verste dryfhou ontvang terwyl Dries du Plessis en Ruane Pretorius beloon is vir naaste aan die putjie.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com













