Westenburg-seun (16) opgesluit, aangerand, gesodomiseer
Terwyl ‘n 16-jarige seun van Westenburg ‘n mesaanval waarvan hy ongeveer ‘n maand gelede die slagoffer was probeer verwerk, het sy lewe in ‘n oogwink verander toe hy onlangs in dieselfde woonbuurt se HOP-uitbreiding deur ‘n man aangehou, aangerand en verskeie kere gesodomiseer is. Sy beweerde verkragter het Maandag in die Polokwane Landdroshof verskyn en …

Terwyl ‘n 16-jarige seun van Westenburg ‘n mesaanval waarvan hy ongeveer ‘n maand gelede die slagoffer was probeer verwerk, het sy lewe in ‘n oogwink verander toe hy onlangs in dieselfde woonbuurt se HOP-uitbreiding deur ‘n man aangehou, aangerand en verskeie kere gesodomiseer is.
Sy beweerde verkragter het Maandag in die Polokwane Landdroshof verskyn en die saak is tot Woensdag uitgestel.
Buite die hof het sy hoogsontstelde pa gesit en wag vir die hofverrigtinge om te begin. Hy het met Polokwane Observer gesels op voorwaarde dat sy en sy seun se identiteit beskerm
word. Hy het duidelik sy emosies probeer beteuel, maar die woede in hom het weerspieël terwyl hy vertel van die gruwelike gebeure wat sy seun, ‘n leerder van ‘n plaaslike skool, na bewering moes deurmaak.
Op ‘n Sondagmiddag ongeveer twee weke gelede het sy seun gesê hy gaan saam met sy vriende by die swembad in die woonbuurt swem. Hy het die huis ongeveer 14:00 verlaat en teen sononder het sy gesin begin bekommerd raak omdat hy nog nie tuis was nie.
“Ons het die aand begin soek, maar sonder sukses. Maandag het ons aanhou soek en oproepe begin maak om te probeer vasstel waar my kind mag wees. Dinsdagoggend het ek na die Westenburg polisiestasie gegaan om ‘n saak van ‘n vermiste persoon aanhangig te maak,” sê die pa.
Toe hy by die polisiestasie uitstap het sy jonger seun aangehardloop gekom om te sê sy broer is by die huis. “Ek is dadelik huis toe waar ek my seun in trane gevind het. Hy het vreeslik gehuil terwyl hy my vertel het hoe hy deur ‘n man in die HOP-uitbreiding aangehou en verskeie kere verkrag is.”
Die pa sê volgens sy seun het hy en ‘n klomp vriende om een of ander rede van die swembad na dié betrokke huis gegaan. Sy vriende het later vertrek en hy het agtergebly. Dit is toe dat hy glo in die huis toegesluit, aangehou, mishandel en verkrag is. Die pa sê sy seun was glo vol kneusplekke aan sy gesig en lyf na hy waarskynlik aangerand is voordat hy Dinsdagoggend vrygelaat is. “Ons het die saak by die polisie aangemeld en hom ook na Seshego hospitaal geneem waar die dokter penetrasie bevestig het.”
Die pa het self begin om na die verdagte te soek en verskeie kere na die betrokke huis gegaan, maar niemand daar gevind nie. Inligting het hom verlede Donderdag na Buitestraat in die middestad gelei waar hy begin vrae vra het. “Ek het die verdagte se naam gehad en terwyl ek met ‘n persoon staan en praat het, het ek nie besef dat hy die beweerde verkragter is nie. Toe hy homself identifiseer het ek hom dadelik oorrompel terwyl omstanders die polisie geskakel het,” vertel hy.
Volgens hom het die gebeure sy seun se hele lewe verander. “Hy het vreeslik in sy dop ingekruip en woon gereelde sessies by die skool se maatskaplike werker by. My vrou ervaar dit baie swaar en sukkel om dit te verwerk.”
Hy vertel hoe sy seun onlangs ook deur ‘n groep verdagtes in Ben Harrisstraat aangeval en verskeie kere met ‘n mes gesteek is. “Ons het hom gestuur om koopkrag by die winkel te gaan koop en op pad terug is hy aangeval. Hy het verskeie wonde aan sy hande, arms en kop opgedoen.”
Ten spyte daarvan dat die saaknommer reeds Maandag aan die polisie se provinsiale kommunikasie-afdeling verskaf is, kon woordvoerder, Moatshe Ngoepe teen druktyd nie inligting verskaf nie.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



