Doodgewone ontmoetings wat saakmaak
Voor daar nog webwerwe soos @singles, iDate, singlesnearme en ander ‘dating sites’ was, het mense mekaar op doodgewone maniere ontmoet: by die skool, kerk en werk, of is aan mekaar voorgestel deur ‘n tussenganger soos ‘n familielid of vriend.

POLOKWANE – Soms het mens mekaar bloot toevallig raakgeloop. In ‘n winkel of kafee (net rerig fensie plekkie is as ‘restaurante’ beskryf), op straat, by sportgeleenthede. Doodgewone ontmoetings, maar mooi stories wat daarop volg.
Soms was dit liefde met die eerste oogopslag, en soms het vriendskappe gegroei tot liefdesverhoudings.
My ma en pa het mekaar raakgeloop in ‘n boekwinkel waar sy as kassiere gewerk het. Sy, as die oudste van sewe kinders, het uitgespring om te gaan werk na haar pa se dood om te help sorg vir die gesin. Hy het weekliks ingekom van die plaas buite Middelburg, waar hy saam met sy pa geboer het, en het gereeld by die spesifieke winkel aangedoen om ‘n landboutydskrif te koop. Ek weet nie hoe lank dit hom geneem het om haar te vra om saam met hom uit te gaan nie, maar na ‘n huwelikslewe van 65 jaar waarin vier kinders gebore is, is hulle nog bymekaar.
‘n Mooi storie is dié van Kenia en Ria van Rensburg, wat ogies vir mekaar gemaak het in die bus op pad kerk toe, toe sy in Standerd 8 en hy in Standerd 9 was. “Dit was liefde met die eerste oogopslag, en later het hy vir my ‘n prop (soos ‘n kysbrief toe bekend gestaan het!) gestuur. Ek het dit egter nie geantwoord nie: die brief was onderteken deur Peet van Rensburg, en ek en almal, het hom as Kenia geken! Eers die naweek het my broer vir my gesê dat Kenia vir my ‘n brief gestuur het, en toe het ek vinnig ‘ja’ gesê! Hy was ‘n Tommie en ek in die Handelskool, soos Noorderland toe bekend gestaan het, en altwee was in die koshuis. Later het ons besef dat ons koshuiskamers, hoewel ver uitmekaar, se vensters na mekaar gewys het. Ons het toe die gewoonte ontwikkel om, voor ons gaan slaap het, in die aande vir mekaar ligseine te flikker om ‘lekker slaap’ te sê.” Kenia en Ria is vanjaar 50 jaar getroud. “Ek is nog net so lief vir haar,” vertel Kenia.
Alta Marais, vrou van Neels, vertel: “Ek was 19 en het gewerk by Pep Stores in Agathastraat in Tzaneen. Ek was n kassiere en my bestuurder het op verlof gegaan. Ons het die Maandagoggend die aflosbestuurder van die Kaap af verwag. Ek onthou nog toe ek vir Neels, toe 21 jaar oud, die eerste keer gesien het, veral sy mooi oë. Ek het hom aan die bestuurder gaan voorstel en aangegaan met my werk.”
“Die eerste week hou ek toe net mooi niks van die man nie, ek is n preutse jongmeisie en hy is hopeloos te windgat na my sin. Hy wil graag kom koffie drink en ek maak net aanmekaar verskonings. Aanhouer wen, en hy kom drink toe een Saterdag koffie.”
Die spreekwoordelike koël is toe deur die kerk. “Ons het twee maande na die ontmoeting verloof geraak en is vier maande later, op 24 Desember 1982, getroud. Die dag toe ons besluit ons gaan trou, het ons ook besluit dat ons nooit gaan skei nie, en dit was die beste besluit van ons lewe. Deur dik en dun. Ons het ook besluit dat ons God saam sal dien. Dis nou 37 jaar later en ons is die trotse ouers van vier kinders en vier pragtige kleinkinders, met nog enetjie op pad. My man is my groot liefde en sielsgenoot.”
Ekself was ‘n Ienk (eerstejaar) by Tukkies. As eerstejaars in die koshuis moes ons gereeld funksies van die manskoshuise bywoon of hulle ondersteun tydens sportbyeenkomste. So was dit die 14e Mei 1976, en ‘n Vrydagaand, toe ons eerstejaartjies kollegehuis se rugby moes gaan kyk. My vriendin en kamermaat het met bekendes gesels en ek het maar daar rondgestaan.
“Ja juffrou, en wat staan jy so alleen hier?” was sy heel eerste woorde aan my. Ons het aan die gesels geraak en afgespreek om die volgende aand te gaan fliek: Zorro! Ek het die aantreklike man reeds voorheen by ons koshuis gesien saam met ‘n ander inwoner, wie later geblyk het sy suster te wees. Die Saterdagaand ná die fliek vergeet ek toe skoon my handsak in sy bakkie. Hy moes dit toe weer die Sondag vir my terugbring, en ons het ‘n koeldrank gaan drink. ‘n Week na ons ontmoeting het ek ‘ja’ gesê toe hy vra of ons kon uitgaan. In November dieselfde jaar het ons verloof geraak, en is in Januarie 1977, kort voor die universiteitsopening, getroud. So het ons beide, as getroude studente, ons studies voltooi en is, na 43 jaar en baie sakke sout, nog steeds gelukkig saam.




