Local NewsNews

Van skoolkys tot eerste baba: die lewe is ‘n fees

Corwell en Marlien Jacobs ken mekaar al van skooltyd af, en het toe al besluit hulle gaan eendag trou.

POLOKWANE – Na vier jaar se getroude lewe is hulle lewens verryk met klein Marcus, nou 14 weke oud. Marlien was nog met kraamverlof toe ek by die paartjie gaan inloer het. Hulle is nog steeds dolverlief, en sien nog kans vir baie jare saam.

Corwell en Marlien se broers was vriende, en hulle was eintlik in dieselfde laerskool in Ivypark, maar het mekaar nie juis geken nie. Die twee vriende het saam gimnasium toe gegaan, en later saam na Muurprop, ‘n Christelike jeuggroep, gegaan, en dis hier waar Corwell vir Marlien leer ken het in Desember 2011. Marlien sou die volgende jaar in gr. 11, en hy in gr. 12 wees, hy was ‘n Pietie en sy in Tommie. “Eers het ons by Muurprop gesels, maar later het ons ook mekaar ge-BBM, die voorloper van WhatsApp, en verder gesels,” vertel Corwell.

Op Marlien se verjaarsdag op 24 April 2012 het sy ma vir Marlien ‘n geskenk by die skool afgelewer: ‘n fotoraam met ‘n boodskap: “Jy beteken baie vir my” en “Sal jy my meisie wees?” met twee kaartjies by, ‘n ja en ‘n nee-antwoord.

“Natuurlik was my antwoord ‘Ja’. Ek was baie beïndruk met die aantreklike ou, en ons het heerlik gesels. Ek het heimlik gehoop hy sou my vra, en het hom al vroeër raakgesien, maar was glad nie seker of hy vir my sou gaan nie. Ek het maar gehoop vir die beste!”

Corwel vertel dat Marlien se goeie hart en vriendelikheid sy hart gewen het. “Ek kon skaars ‘n woord uitkry, aanvanklik toe ons mekaar leer ken het, ek kon net glimlag oor die mooi meisie met my praat. Sy het haar hare gekleur en dit het so ‘n groenerige blond uitgekom, en ons het lekker daaroor gelag.”

“Ons lag nou nog lekker daaroor,” vul Marlien aan. “Ons Muurprop-vriende sal dit seker altyd onthou! Ons het reeds na die eerste paar weke wat ons mekaar geken het oor trou gepraat. Ons was 100% verlief! Ons het trouplanne gehad voor ons nog werklik in ‘n verhouding was.”

Corwell het matriek klaargemaak en gaan werk. Toe sy die daaropvolgende jaar, in 2013, haar laaste matriekvak skryf, het hulle oor verloofraak gepraat en besluit om te trou.

“Die eerste dag wat ek gewerk het, het Corwell ouers gevra. Hy het roosblare op my kamervloer en bed gestrooi, en my na my kamer geneem, in die skemer was ek eers vies – ek hou nie van ‘n vuil huis nie, en het gedink hy het lekkergoedpapier op die vloer gemors!” in my kamer was daar egter ‘n klein voëlkoutjie met ‘n glasie in, en in die glasie was daar ‘n verloofring.”

Corwell het sommer dadelik begin om huis te bou, op ‘n koppie op ‘n plot, met ‘n mooi uitsig oor die stad se liggies in die aand. “Dit het maar stadig gegaan, die geld was skraps en ek moes kort-kort wag en spaar om verder te bou.” Maar met die stop-en-bou, stop-en-bou was die huis uiteindelik klaar, en die twee is in Desember 2016 getroud, met ’n heerlike informele braai-onthaal in die Polokwane wildtuin. Hulle het ‘n week later op wittebrood vertrek, na Marloth Park en Mosambiek, en het ook die laeveld plat gery. Hulle onthou ook die talle vakansies daarna met ‘n vonkel in die oog.

Op ‘n Saterdag verlede jaar het Marlien gekla sy voel moeg en nie lekker nie, en Corwell het gespot en gesê hy dink sy is swanger. Later die week het Corwell tuis gekom en ‘n paar blou babaskoentjies op die tafel gekry met die boodskap: “Hunting buddy coming soon….”

“Dit was ‘n groot oomblik,” vertel hy. “Ons het vir eers niemand vertel nie, maar nege weke later is ons saam met beide ons ouerpare na St Lucia vir ‘n vakansie. Daar het ons vir hulle gesê om hulle oë toe te hou en in elke paar se hande ‘n fotoraampie met ‘n foto van die sonar geplaas. Almal was letterlik in trane toe die werklikheid tot hulle deurdring! Ons het ‘n video van hulle reaksie geneem.“

Corwell sê in die besige tyd waarin ons vandag leef is daar nie baie tyd nie, en daarom maak hulle graag iets wat spesiaal is, ekstra spesiaal. “Soos verjaarsdae.”

Marlien sê sy dink ‘n meisie kyk en soek ‘n man soos haar pa, wat vir haar ‘n rolmodel was. Corwell was haar eerste en laaste kêrel. Corwell het met ander meisies uitgegaan, maar het dadelik geweet Marlien is spesiaal. “As jy nie kan gee nie, sal jy ook nie ontvang nie, en mens moet ook nie verwag iemand moet 100% by jou aanpas nie. Mense groei en ontwikkel met die tyd, en verander. Die stress van werk en die ‘grootmenslewe’ verander mens – dis baie anders as om in jou ouerhuis te woon.”

Hulle is nou al agt jaar saam, en die koms van klein Marcus het die werklikheid van dat hulle lewe nou vir eers om hom sal draai, laat insink. “Ons draai minstens drie keer per week, en dis nou lekkerder om by die huis te bly en hier te braai as om ‘n pakkaas in te pak en by iemand anders te gaan braai!”

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button