Van ‘n kilogram botterbakkie na erdwurmboerdery, Neels vertel sy storie
Erdwurm Dag word elke jaar op 15 Februarie gevier en Review het met erdwurmboer, Neels Enslin, gaan gesels oor dié boerdery.
POLOKWANE – Die visstokke is gereed en die viskas is gepak. Die tent is getoets en die braaihout gekoop. Die aas word heel laaste gekoop en dan is dit tyd vir ‘n wegbreek na die viswaters.
In ‘n botterbakkie, tussen kompos kriewel ongeveer ‘n 100 erdwurms, min wetend hulle word nou viskos.
Erdwurm Dag word elke jaar op 15 Februarie gevier en Review het met erdwurmboer, Neels Enslin, gaan gesels oor dié boerdery.
“Ek verkoop die Kariba wurm wat ook bekend staan as die rooiwurm. Die grootste wurm kom voor in Australië en Suid-Afrika is huis vir die derde grootste wurm. Noord Zimbabwe is die huis vir die tweede grootste. Die wurms word in verskillende kategorieë verdeel naamlik klein, middelmatig en groot. Dan kry jy ‘n ander spesie wat bekend staan as slangwurms, springwurms of blouwurms.”

Neels verduidelik die wurms is gewild onder meer as net vissermanne en dat tuiniers van sy gereelde kliënte is. “Ek het ‘n kliënt wat gereeld vir sy ouers in Polokwane kom kuier vanaf Pretoria en elke keer sommer R300 se wurms by my aankoop. Sommige mense skaf ook wurms aan om hulle eie boerderye te begin.”
Op die vraag oor wat die wurms eet, antwoord Neels met ‘n stoute laggie: “Van die wurms hardloop in die veld en eet dan sommer wat voorkom. In aanhouding kry hulle verskillende kossoorte wat hulle lank en vet kan maak. Soms word hulle mieliemeel of lêmeel gevoer en selfs fyngemaalde mieliestronke. Hulle hoofvoer is egter bees- of perdemis. Ongelukkig gee perdemis luise af as dit ouer as ses maande is.”
Neels het reeds as jong vakleerling met dié stokperdjie begin. “Ek het gereeld gehengel en was geïnteresseerd in die naam van die wurm wat ons vir aas gebruik het. Ek het die biblioteek besoek waar ek begin nalees het oor dié wurm.”
Hy vertel hoe sy huidige boerdery met ‘n kilogram botterbakkie begin het. “My broer het vir my ‘n bakkie met wurms gebring en later nog een. Nou het ek heelwat kaste waarin ek boer. Ek haal hulle gereeld uit en verpak hulle in kleiner houers sodat ek dit kan verkoop.”




