Local NewsNews

Honde-aanval: Onwerklik, sê Ronelle

Polokwane inwoner, Ronelle Seitz was op 26 Oktober 2019 deur twee honde aangeval by haar huis.

POLOKWANE – Op 26 Oktober 2019, verander Ronelle Seitz se lewe binne sekondes.

Sy word by haar huis deur twee honde aangeval en verloor byna haar lewe.”Die was net na 12:00 en ek was by die haarkapper en het pille vir my man gekry toe ek gou by my huis stilhou. Ek het die pille vir hom geneem en my  dogter, Elsabé het buite die hek vir my gewag. Ons sou dorp toe gaan. Met die uitloopslag misgis ek my met die trappie en ek val.”

Sy verduidelik die honde het Elsabé as hulle eienaar aangeneem, maar Ronelle het dikwels vir hulle iets gegee om te eet. Sy vertel hulle het na Elsabé gekyk, maar toe sy val kyk die reun na haar en die volgende oomblik gryp hy haar.

“Ek het gesukkel om op te staan en was handeviervoet toe hy my gryp. Hy het eers my kopvel afgeruk. Intussen het Elsabé vreeslik gegil en my probeer op help en ook die honde weg kry. Ek onthou ek het opgekyk en toe sien ek net hoe kom die reun nader en gryp my aan die gesig. My man het ook kom help, maar die honde was onbeheerbaar. Hulle het my oral gebyt, my voete en bene, arms, rug, my hele liggaam. Ek het heeltyd gekeer vir my keel, want die reun wou my aan die keel gryp.”

Na die aanval is Ronelle na Netcare Pholoso geneem.”Ek was heeltyd by my volle bewussyn en het ongelooflike pyn aan my been gehad. Alle gevoel aan my gesig was weg soos wat al die senuwees afgebyt is. Ek het nooit gedink dit sal met my gebeur nie. By die hospitaal het die dokter my baie gerusgestel.”

Ronelle is dadelik na die teater geneem waarna sy vir drie dae in die intensiewe sorgeenheid gelê het. Daarna was sy na ‘n privaat saal waar deurentydse infeksiebeheer toegepas is.”Ek het nie een keer infeksie gekry nie. Die wondsusters wat my behandel het na ek ontslaan is, was ook baie oulik. My been het lank gevat om regtig te genees en het eers teen middel Maart genees.”

Die dokters moes vir Ronelle ‘n nuwe neus bou deur vel van haar voorkop te neem en kraakbeen van agter haar oor. Ook moes haar wang weer opgebou word. “Daar lê vir my nog drie operasies voor om my gesig te herstel. Ek is so dankbaar ek leef en is weer op die been.”

Ronelle kry nog baie terugflitse van dié dag en is baie bang vir honde. Sy bedank almal wat finansieel bygedra het. “Soveel mense het gehelp. Ek is ongelooflik dankbaar vir hulle.”

Die familie vra almal wat geld inbetaal het tussen Oktober en Januarie om ‘n bewys van die betaling aan Ronelle se skoondogter, Lylani Seitz te stuur by lseitz24@gmail.com of 071 354 2211.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button