Local NewsNews

Plaaslike dokter: Toe kry ék Covid-19

’n Plaaslike spesialis in Polokwane het onlangs positief getoets vir Covid-19. Sy storie is een van hoop, inspirasie en uiteindelik, oorwinning. In die lig van die oormaat feite wat daagliks oor die virus gepubliseer word, het ons dit goedgedink om die persoon se eerstehandse weergawe van die gebeure te publiseer, in sy eie woorde. Ons hoop dit bring gerusstelling vir die talle gesinne in ons provinsie wat deur die virus geraak is, en vir dié vir wie die toekoms nog onseker is. - Redakteur.

POLOKWANE – Einde Maart vanjaar word ons land op sy kop gekeer deur iets wat ons nie eers kan sien nie.

Ons word ge-lockdown in ons huise, moet hande was dat die biesies bewe, moet maskers dra en moet ver wegbly van mekaar. Daar mag net soveel mense op ‘n slag by ‘n begrafnis of in ‘n winkel wees, later is daar voorskrifte hoe en wanneer jy mag oefen, jy mag drink maar nie rook nie, jy mag nie hare sny nie en so hoop die lys van reëls en regulasies op. Skielik lyk ons normaal heeltemal anders?

Ons praktyke en hospitale ondergaan ‘n hele metamorfose. Alle roetinewerk word gestaak terwyl almal wag dat dit wat in elders in die wêreld gebeur ons ook moet tref. Ons is soos sitting ducks wat wag dat die “surge” ons tref terwyl almal rondskarrel om voorsorg te tref.

Ons hoor dat ons die kurwe van infeksie moet afplat, anders gaan ons gesondheidsdienste nie die pandemie kan hanteer nie. Skielik kyk almal mekaar verdag aan, jy word orals gescreen en jou temperatuur word gemeet en jy moet getoets word vir die “waairus” voordat jy jou operasie mag kry.

Ons hoor dat ‘n klomp mense baie siek word en dat sommige ook sterf. En ons vertel mekaar hoe verskriklik dit is. Maar dit bly ‘n ding wat daar ver is. Limpopo is mos darem nou nie die Weskaap of Gauteng nie. Ons het immers darem ook die tweede laagste insidensie van Covid-19 gevalle in die land en ons gevalle is ook darem in verhouding baie minder as daar elders.

So ‘n tyd gelede is een van my personeellede erg bekommerd, want sy was in kontak met ‘n familielid wat in kontak was met ‘n ander familielid wat in kontak was met ‘n ander familielid, wat positief getoets het vir Covid-19. Ek probeer haar gerusstel, maar sien dat al wat gaan help is dat sy moet weet dat sy negatief toets. So gesê, so gedaan, en die toets word gedoen. En skielik word die saadjie van twyfel ook in my kop geplant en ek besluit om my vir die wis en onwis ook maar te laat toets.

Die personeellid se toets is gelukkig soos verwag negatief, maar my toets is positief.

Slegte nuus het nou maar eenmaal die vermoë om jou onkant te vang. Skielik is die “waairus” nie meer iets daar ver nie. Skielik is dit hier naby aan my, hier binne in my lyf. Skielik word al die stories oor mense wat siek word en ander wat doodgaan meer van ‘n werklikheid.

‘n Hele stapel vorms moet ingevul word om dit aan te meld by die “powers-that-be” en die Departement van Gesondheid besoek my woning en verduidelik die vereistes van my 14-dae kwarantynperiode. So stadigaan begin die werklikheid van die situasie insink en ‘n vrees pak my beet – wat as my familie, kollegas, personeel of pasiënte dalk ook geïnfekteer kan word? Almal word gekontak, toetse word gedoen en genadiglik is en bly almal okay.

Ten spyte van die chaos, was ek nog nooit in my lewe so dankbaar vir so ‘n klomp ‘negatiewe’ mense om my nie.Ten einde laaste draai die fokus terug na ons en begin die knaende kommer of ek, en my vrou wat saam in kwarantyn moes wees, dalk gaan siek word of nie.

Dit is moeilik om hierdie storm in jou binneste te verwoord.Die kwarantynperiode is inperking op steroids en bring onverwagse eensaamheid.

Jy moet binne bly en mag geen kontak met enigiemand hê nie. Die behoefte aan selfs net ‘n gerusstellende drukkie om te sê als sal OK wees begin nogal ‘n issue raak. Dank die Vader vir elke oproep van elke familielid, vriend en pasiënt om ons sterkte toe te wens – dit het ons gedra deur die tyd.

In dieselfde tyd kontak ‘n kollega-vriend in Pretoria wat ook geïnfekteerd geraak het my en vertel dat hy hondsiek is vir al langer as ‘n week. Elke dag bel ons angstig om te hoor of hy OK is, en gelukkig begin hy darem nou stadigaan beter raak. En ek dink by myself dat ons hierdie ding nie ligtelik moet opvat nie bloot omdat die meerderheid mense asimptomaties of matig simptome ontwikkel nie, want die mense wat siek word, word baie, baie siek, en sommige sterf?

My vrou moes elke dag haar temperatuur en simptome, al dan nie, in WhatsApp na Suster Matsimela van die Departement van Gesondheid sodat hulle ons situasie kon monitor. Sy wys vir my dat Matsimela vir haar dan ‘n boodskappie terugstuur wat sê “may the Mighty Lord bless u” en “stay safe”.

Ek luister na ‘n TV-aanbieder wat berig oor ‘n boer teen die Lesotho- grens wat vir haar gesê het dat, as die Here hulle nie hierdie keer gaan help nie, sal dit die eerste keer wees. Die Bybel vertel ons van die vrede wat alle verstand te bowe gaan, en juis toe kom daar ‘n kalmte in my gemoed want ek weet: ons is mos kinders van die Here. Ek onthou van al die kere wat Hy Sy Hand van beskerming oor my en my gesin gehou het en daar kom ‘n berusting oor my en my vrou dat, as die Here ons nie hierdie keer gaan help nie, sal dit ook die eerste keer wees.

Niemand anders om my het geïnfekteerd geraak nie en ek het self ook geen simptome van watteraard ookal ontwikkel nie. My opvolgtoets twee weke later aan die einde van die kwarantynperiode was negatief. Baie mense het my vertel hoe lucky ek was, maar ek weet dat dit wat met my gebeur het, absoluut niks met luck te make gehad het nie. Dit was bloot maar net weereens die Here wat Sy Hand van beskerming oor my, my familie, kollegas, personeel en pasiënte gehou het, want, ten spyte van hoe erg dit is, bly Hy ook die ‘waairus’ se Baas…en daarvoor bring ek aan Hom al die lof en eer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 066 326 2011

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button