Oosskool se hoofingang deel van ‘n trotse tradisie
‘n Omvattende geskiedenis en simboliek is vasgevang in dié ingang, wat in 1994 ‘n geskenk aan die skool is.

POLOKWANE – Dit is 12 Oktober 1994 en gaste neem hulle sitplekke in op die netjiesgeplaveide sypaadjie voor Oosskool se hoogingang. Vir weke is daar gebreek en gebou om dié geskenk – vanaf die gr.7-groep – aan die skool, gereed te kry. Dié geskenk is ‘n splinternuwe ingang, ontwerp deur argitek De Wet Greyling en gebou deur Henri Bam, en is vol simboliek.

Vandag, bykans 26 jaar later, word dié ingang steeds daagliks gebruik en Review het met die betrokkenes gesels om te hoor van dié spesiale openingsdag in 1994.

Die argitek, De Wet Greyling, se vier kinders was almal in Oosskool, en sy tweede oudste seun, Heinz, was in 1994 in gr.7.
“Alhoewel die takie nie baie groot was nie, was dit ongeveer ‘n week voordat die ontwerp finaal goedgekeur is. Hierna het ek begin om bouers te soek. Daar was drie moontlike bouers en die tender is toegestaan aan Henri Bam, wat self ook ‘n ouer van Oosskool was,” vertel De Wet.

Die hek is vol simbole en De Wet verduidelik hy was verantwoordelik daarvoor.
“Leerders van Oosskool ontvang onuitputbare kennis. Die boonste gewel simboliseer dat alles omsluit word deur die almag van onse Hemelse Vader, die balk net daaronder verteenwoordig Oosskool, terwyl die lig wat deur die opening straal kennis verteenwoordig. Die twee pilare stel die seuns en meisies van die skool voor. Die baksteenwerk, die ouers en onderwysers, en die plante wat in die plantbak geplant word, is simbolies van groei.”

Hierdie skoolingang is steeds baie spesiaal vir De Wet en hy vertel die skool het deur ‘n moeilike tyd gegaan in die voorafgaande tydperk.
“Kort hierna is ‘n nuwe skooljoof aangestel wat die skool weer reggeruk het. As ouer van die skool is daar baie herinneringe verbonde aan dié ingang.”
Die bouer van dié projek, Henri Bam, vertel beide hy en sy voorman op dié projek, het ‘n paar meter van die skool af gewoon ten tye van die bou van die ingang.
“Al drie my kinders was in Oosskool en dit was ‘n eer om aan die projek te kon werk.”

Die huidige skoolhoof, Gideon Pelzer, vertel die kernbesigheid van alle skole is presies dieselfde. “Alle skole onderrig ‘n kurrikulum en stel vir sy leerders buitekurrikulêre aktiwiteite daar. Wat maak een skool dan beter as die volgende? In my beskeie opinie kan dit slegs die waardes en die tradisies wees wat die skool nastreef en uitleef, wat ‘n wesenlike verskil maak.”
Tradisie is vir almal by Oosskool ontsaglik belangrik en van onskatbare waarde, vertel hy. Dit vorm deel van hul karakter, bepaal die koers wat hulle inslaan en herinner hulle waar hulle vandaan kom.
“Tradisie help ook bou aan ons nalatenskap wat vir toekomstige Osies weer rigtinggewend sal wees en koersvas sal hou.”
Die verandering aan die muur by die ingangshek was ‘n verdere uitbreiding aan die bestaande tradisie.

“Ons het die naam Oosskool meer prominent sigbaar gemaak omdat ons trots is op wie en wat Oosskool is. Die naam simboliseer dat ons waardegedrewe is en daagliks daarna streef om hierdie waardes uit te leef. Die standerd 5-leerlinge van 1994 het die weg gebaan en die ingang by die hoofhek as afskeidsgeskenk aan die skool gegee. Dit is een van vele mooi tradisies by ons skool waar die gr. 7’s iets nalaat wanneer hulle die skool verlaat en hul vlerke sprei.”
Hy vertel die simboliek van die ingang by die hoofhek is steeds deel van die tradisie by die skool en is in die anale van die skooljoernaal vir altyd aangeteken.
“Die skoolwapen is opgeskuif om die lig wat kennis verteenwoordig, deur die wapen te laat skyn. Kennis, in ons verwysing, begin met die dien van die Here en daarom laat ons die lig van ons Skepper deur die wapen skyn. Die boonste gewel simboliseer steeds dat die Almag van ons Hemelse Vader ons skool en alles daarin steeds vandag nog omsluit,” sluit hy af.




