Limpopo se damvlakke bestendig
Ondanks goeie stygings in die damvlakke, doen die Departement van Water steeds 'n beroep op verbruikers om water spaarsamig te gebruik.
Die weeklikse verslag van die Departement van Water toon dat Limpopo se provinsiale waterberging stabiel is, al het dit afgeneem van 88,5% verlede week tot 88,1% vandeesweek.
Die departement se Woordvoerder, Sputnik Ratau, sê dit beteken dat die opgegaarde water tans 1 303,6m³ uit ‘n kapasiteit van 1 480,1m³ opneem.
“Die meeste damme het hul kapasiteit oortref en dit is ‘n merkwaardige verbetering van verlede jaar, toe die provinsiale wateropberging gedurende hierdie tydperk 71,1% was. In die Vhembedistrik het die Nandonidam, wat deur die Levhuvhurivier voorsien word, hierdie week afgeneem van 105,2% verlede week tot 104,6% hierdie week. Die dam was verlede jaar op hierdie tydstip 102,6% vol,” verduidelik Ratau.
Hy noem dat die Vondodam se vlakke vandeesweek onveranderd is op 104,6%.
“Die De Hoopdam in Steelpoort, wat die gemeenskap van Sekhukhune en die plaaslike mynboubedryf voorsien, is vandeesweek steeds op sy volle kapasiteit van 105%. Flag Boshielo Dam is ook op volle kapasiteit met 100,9%, al is dit ‘n effense afname van 101,4% van verlede week. Die dam het verlede jaar 101,2% aangeteken op hierdie tydstip,” sê hy.
Die Ebenezerdam in Groot Letaba, wat die meerderheid van die gemeenskappe rondom Polokwane voorsien, het vanaf 73,1% verlede week gestyg tot 75,8% hierdie week.
“Hierdie is ‘n groot verbetering van verlede jaar toe dit op hierdie stadium op 25,2% gestaan het. Die Mokolodam is vandeesweek 102,2% vol, wat ‘n groot verbetering vergeleke met verlede jaar se 67,8% is.”
Die Tzaneendam, wat water aan boere verskaf vir besproeiing in die gebied, het afgeneem van verlede week se 103,2% tot 102,2% vandeesweek. Hierdie dam was verlede jaar op hierdie tydstip op ‘n laagtepunt van 23,9%.
Die Middel Letabadam is steeds op ‘n kritieke lae vlak van 10,9%, al is dit ‘n verbetering in vergelyking met verlede week se 9,4%.
“Dit is steeds ‘n verbetering van toe dit verlede jaar op hierdie tydstip op 5,3% gestaan het. Die Doorndraaidam in die Sterkrivier het hierdie week ‘n verbeterde 34,7% aangeteken in vergelyking met verlede week se 34%. Die dam is wel op ‘n kritiese lae vlak, al is daar ‘n groot verbetering in vergelyking met 13,2% op dieselfde tydstip verlede jaar,” noem hy.
Ratau sê ten spyte van hierdie verbeterings in Limpopo se damvlakke, doen die departement steeds ‘n beroep op verbruikers om water spaarsamig te gebruik, aangesien water ‘n skaars hulpbron is.



