Mokopane se waterkrane bly maar droog
Bosveld wou na aanleiding van die talle vrae vanuit die gemeenskap by Yolande Coetzee, DA wyksraadslid, hoor wat veroorsaak die nimmereindige waterprobleme.
MOKOPANE – Dit het die afgelope tyd lekker gereën en die Doorndraai Dam se vlakke het aansienlik gelig, maar steeds droog die water in die krane gereeld op. Bosveld wou na aanleiding van die talle vrae vanuit die gemeenskap by Yolande Coetzee, DA wyksraadslid, hoor wat veroorsaak die nimmereindige waterprobleme.
Yolande vertel sy word ook oorval met inwoners se vrae en klagtes. Sy wys daarop dat daar wel van tyd tot tyd probleme is met die infrastruktuur soos pype wat bars of as daar tegniese probleme opduik of as Lepelle ‘n krisis ervaar en nie water kan pomp nie, maar dat die inwoners moet onthou die dorp kry elke dag net agt megaliter water wat deur die Departement van Waterwese aan die munisipaliteit toegestaan is.
“Voorheen was dit 12 megaliter water (plus die boorgate), maar dit is verminder weens die water tekorte en dalende watervlakke van die Doorndraai Dam. Voor die water die dorp bereik is daar ‘n paar boere wat ook vanaf die lyn water ontvang, dus ontvang die dorp tussen ses en sewe megaliter daagliks wat in sarsies gepomp word vanaf Doorndraai en dan ook nog vanaf munisipale boorgate.
“Die hoeveelheid boorgate wat gebruik mag word en die hoeveelheid wat uit elk gepomp word, is ook verminder en word gereguleer deur die Department van Waterwese om die ondergrondse watertafel te beskerm.
“Ons moet in ag neem dat daar daagliks meer water verbruik word en water-opgaartanks gevul word. Daar is al hoe meer nuwe intrekkers en uitbereidings in die dorp wat ons water nog verder onder druk plaas. Die inwoners moet ook onthou dat die reservoirs groot gebiede moet voed, nie net die middedorp nie, maar ook uitbereidings om die dorp, besighede en nywerhede in die industriële gebiede.”
Yolande sê ongelukkig is daar dikwels teen die middag nog nie ‘n genoegsame hoeveelheid water in die reservoirs gepomp nie, weens die te hoë verbruik die oggend en veroorsaak dit dat die reservoirvlakke nog te laag is om oop te maak. Dit is dan wanneer daar eerder briek aangedraai word met watervoorsiening sodat die bietjie water wat oor is nie net by een gedeelte van die dorp se inwoners uitkom nie. Dit is dan beter om die reservoirs toe te hou, sodat almal eerder water kan kry. Water word deur die dorp versprei deur middel van gravitasie. Dus, as die vlakke te laag is, versprei die water nie en kan dit nie opstoot na areas toe nie, sê Yolande.
Sy maan die inwoners om water spaarsamig te gebruik en ook om te onthou dat die water in die dam ons moet deurtrek deur die winter wat voorlê tot die volgende reënseisoen.
“Ons besef mense verstaan nie waarom ons nog sukkel terwyl damvlakke styg nie, maar as daar nie nou oordeelkundig opgetree word nie, kan ons weer teen die winter dag zero in die gesig staar.”
Die DA raadslede is besig met besprekings met die munisipaliteit dat hul aansoek doen by die departement vir die pomp van bykomende megaliters water per dag om die huidige situasie te probeer verbeter. Die munisipale boorgatprojek waar boorgate in die industriele gebied gekoppel gaan word deur middel van ‘n pyplyn na die boonste reservoir, is ook sterk opdreef. Dit behoort in Meimaand voltooi te wees en sal verdere verligting bring.



