Huldeblyk vir voormalige Polokwane burgemeester na afsterwe
Hennie van Vuuren (88) het diep spore in Polokwane en sy gemeenskap getrap.

POLOKWANE – Hy en sy familie het in 1971 na Polokwane verhuis waar hy as skoolhoof by Laerskool Piet Hugo begin werk het.
Van Vuuren is in Germiston gebore en het na sy skoolloopbaan in bankwese begin werk. Hy was ook by ‘n rekenmeestersfirma en die spoorweë werksaam. Terwyl hy gewerk het, het hy deeltyds studeer aan die Johannesburg College of Education en Unisa om sy onderwysgraad te voltooi.
In 1956 trou hy met Nellie Jordaan en kry drie kinders naamlik Mias, Louise en Elbie. In 1973 was hy verkies tot die stadsraad waar hy vir jare as burgemeester gedien het. Wanneer hy nie burgemeester was nie, was hy op die bestuurskommitee.
Sy dogter, Louise Vermaak, vertel dat hy op verskeie komitees gedien en menigmale mylpale bereik het.
“Van die mylpale sluit in om die Pietersburg Stadion en die tartarbaan ‘n paar jaar later in gebruik te neem. Daar was die tennisbane se pawiljoen, die sportkompleks en die ontwikkeling van die stadsplein. Die museums het onder sy leiding tot stand gekom en ook in stand gehou, asook die uitbreiding van die kunsmuseum en die oprig van bors- en standbeelde om die stad se geskiedenis vas te lê.”

Van Vuuren was baie lief vir sport en het in 1958 en 1959 op die Uitvoerende Komitee vir Transvaal Laerskole Rugby gedien. Hy was ook ondervoorsitter van die Verre Noord Laerskole Rugby Subunie tot en met 1974. Die Cravenweek vind ook twee keer onder sy leiding in Polokwane plaas, en hy het ook vir nege seisoene skeidsregter opgetree.
“Behalwe vir die rugby was hy ook ‘n gholfspeler en ‘n stigterslid van die Albatrosse. Dié klub het landwyd uitgebrei. Verder was hy ook ‘n stigterslid van die Sages, ‘n klub vir afgetredenes,” sê Louise.

Sy goeie geaardheid en liefde vir mense het hom baie gewild gemaak onder die inwoners van Polokwane, Nirvana en Westenburg. “Hy het ook op streeksdiensrade gedien wat hulle beywer het vir die ontwikkeling vir almal in en om Polokwane. Tydens die stad se 1019de raadsvergadering in Desember 1989 was hy vereer vir sy werk en as Raadsheer bevorder.”
Van Vuuren het aan hartversaking op Vrydag, 2 April gesterf en word oorleef deur sy dogters, skoonseuns, sewe kleinkinders en 10 agterkleinkinders. Sy gedenkdiens was op Vrydag, 9 April vanuit die Hervormde Gemeente Oos Moot.
Lees meer van Hennie in volgende week se Polokwane Review.




