[VIDEO] Polokwane inwoner speel ‘verkeersbeampte’ by Nyl Plaza
Andries Rheeder verduidelik hoe hy verkeersopeenhopings by die Nyl Plaza op Donderdag, 1 April help reguleer het.

Motoriste wat die Paasnaweek van die N1 gebruik gemaak het, sal kan getuig hoe besig die pad was en hoe verkeersopeenhopings by tolhekke die orde van die dag was.
‘n Plaaslike inwoner, Andries Rheeder, was een van die ongelukkige motoriste wat vir ure in die verkeer vasgekeer was. Andries, wat op Donderdag, 1 April, omstreeks 20:00 uit Pretoria gery het op pad na Polokwane, het egter nie stilgesit in die verkeer nie en het probeer plan maak.
Hy deel sy storie met Review:
Die eerste tolhek wat ek gehelp het om verkeer te reguleer was die tolhek aan die heel regterkant. Daar was twee voertuie wat gelyk deur die tolhek probeer gaan het en mekaar vasgedruk het daar. Ek het die een voertuig gekry om terug te stoot en die ander een deur te kry. Ek het toe die verkeer gereguleer om die voertuie een-vir-een deur die tolhek te neem. Ek het vir elkeen ‘n nommer gegee en op daardie stadium was daar omtrent vier bane wat deur een tolhek probeer gaan het.
Op ‘n stadium, by die tweede tolhek wat ek gereguleer het, was daar ‘n voertuig wat deur gedruk het en toe in ‘n taxi vasgery het. Dit was die tweede van drie ongelukke wat gebeur het. Die derde ongeluk was twee karre wat gelyktydig na die tolhek toe gery het en mekaar vasgedruk het. Weereens moes ek hulle uitmekaar gehaal het en hulle het toe die een na die ander deurgegaan. Die verkeer het toe begin vloei en stadig maar seker het dit beter begin vloei.



