MOKOPANE – Twee atlete van Hoërskool Hans Strijdom het verlede week die skool se naam hoog gehou tydens die Atletiek Suid-Afrika (ASA) Twizza Nasionale Kampioenskappe wat in die Paarl, Wes Kaap, gehou is.
Cara Louw en Pieter Harmse was deel van die Limpopo-span. Cara het deelgeneem aan die meisies o/16 spiesgooi, en vyfde geëindig met ‘n persoonlike beste gooi van 43.63 m. Dit is Cara se vierde jaar wat sy as spiesgooi-atleet deelneem en kwalifiseer vir die SA kampioenskappe, hoewel verlede jaar se byeenkoms op die laaste nippertjie gekanselleer is.
Sy sê dat dit ‘n ongelooflike ervaring is om die Hansies, sowel as die provinsie te verteenwoordig. “Ek het groot beserings gehad in my voorseisoen, twee ribbes was gebreek en my stuitjie beseer. Vir die volgende voorseisoen sal ek meer kan voorberei en dan gaan ek probeer om ‘n medalje huistoe te bring.”
Vanjaar se kampioenskappe was weer in die Paarl soos in 2018. “Die vlieg Kaap toe was ‘n lekker ervaring. Dit is wel sleg dat geen toeskouers teenwoordig mag wees nie, maar gelukkig kon my ouers en afrigter my sien deelneem,”sê Cara. Haar dankbaarheid is baie groot vir Jesus wat haar die talent gegee het, maar ook vir haar ondersteuningsnetwerk, haar ouers en afrigter.
Pieter het sy talent gewys vir seuns o/16 in diskus en gewigstoot. Hoewel hy die finaal gemis het in beide sy items, het hy ‘n afstand van 43 m gegooi in diskus.
Dit was Pieter se eerste jaar by die SA’s. “Dit was vir my ongelooflik lekker gewees om die beste atlete in die land bymekaar te sien. My verkoue het gemaak dat ek nie my afstande kon bereik nie en ek sal beslis harder moet werk.””
Hy bedank sy borge vir die voorreg en die kans wat hul hom gebied het, sy afrigters en sy ouers vir die ondersteuning.
Beide hierdie atlete het ook hul dank uitgespreek teenoor die skoolhoof, Rinus de Jager, mede-leerders en die gemeenskap vir hul volgenhoue ondersteuning en motiveringsboodskappe. “Die skool is breëbors,” sê Rudolf de Vos, media woordvoerder van die Hansies.




