[FOTO’S] Groot versameling voertuie om die dienssentrum te ondersteun
Dié dag was deel van 'n geldinsamelingsprojek vir die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes.

MOKOPANE – Sowat 240 besoekers het verlede Saterdag die unieke voertuigversameling van Jannie van Waveren besigtig.
“Nie eers die son wat agter die wolke weggekruip het of die yskoue wind wat deur almal gesny het, kon hulle keer om dié unieke versameling te kom aanskou nie,” vertel die organiseerder van die museumdag, Piet van Waveren.
Hy sê na vele onderhandelinge het sy broer, Jannie, besluit om tog toe te gee aan sy versoek om die versameling met die publiek te deel. Dié dag was deel van ‘n geldinsamelingsprojek vir die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes.
Oud en jonk was in ekstase oor die motors, motorfietse, vragmotors, trekkers en selfs oudhede wat uitgestal is op die rakke teen die mure. Piet vertel met trots dat wat eers net ‘n ‘motorfietsryers dag-jol’ sou wees, het ontaard in ‘n heerlike museumdag vir almal. Hy noem die dag mag moontlik ‘n jaarlikse instelling word.
“Verskillende kosstalletjies het die besoekers se smaakkliere behoorlik geprikkel en die koffiekaravaan het nie ‘n oomblik van stilte gehad soos wat die mense soontoe gestroom het vir ietsie warms nie.” Daar was ook klere- en juweeluitstallings en verskeie gesondheids-, vel- en badprodukte, ingemaakte bottels met rissies en konfyt en allerlei lekkertes was te koop aangebied. Besoekers kon hulle dors les in die biertent.
Sanger Thys Gouws, ‘n inwoner van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis, het met sy musiektalent die besoekers deur die dag vermaak. Laerskool Krugerpark se trompoppies het later hulle danspassie met die besoekers gedeel. Tussen die veldritte in van die ou voertuie, die perderitte en die veiling van eksklusiewe bottels drank het die museumdag ongeveer R20 000 ingesamel vir die dienssentrum se geldkoffers.
“Met julle hulp kan die dienssentrum weer aan ‘n paar bejaardes ‘n bord kos voorsien,” bedank Piet die gemeenskap.

















