As jy glo jy kan, dan kan jy – Annette Kapp
Annette is 'n wiskunde onderwyser wat glo dat enigiemand wiskunde baas kan raak, al beskik almal nie oor dieselfde vermoëns nie.
POLOKWANE – As jy ‘n kind kan laat glo hulle kan iets doen, sal meeste jou nie teleurstel nie.
Na 23 jaar in die onderwys kan Annette Kapp met trots sê dit is haar wenresep.
Annette is ‘n bekende in die onderwyskringe en deel haar kennis van wiskunde graag met leerders.
Sy het self al van skool af van wiskunde gehou en haar ouers het haar aangeraai om in die onderwys in te gaan.
“Aangesien wiskunde my fasineer, en alles om ons wiskunde is, het ek besluit om dit my hoofvak te maak. As jy die reëls ken, is dit die maklikste vak, met een korrekte antwoord op ‘n vraag, en baie maniere om daar uit te kom,” verduidelik sy.
Nie elke kind in ‘n klas vind wiskunde maklik nie en dus moet almal verskillend benader word.
“As die ontsluiting van die werk goed gedoen is deur ‘n onderwyser met ‘n passie vir die vak, is dit lekker en maklik. Party onderwysers het alhoewel aanvaar jy moet self daardeur stoei sonder om die reëls te verduidelik; dan was dit nie lekker werk nie.”
Annette sê raak moeilik as die kind regtig nie in wiskunde belangstel nie.
“Ons Hemelse Vader het almal verskillend gemaak en nie almal beskik oor dieselfde wiskundige vermoëns nie. Deur die vak te ontsluit met praktiese hulpmiddels, speletjies en verduidelikings sodat die oplossing maklik gevind kan word, werk in meeste gevalle om dié leerder geinteresseerd te kry.”
Basiese wiskundige bewerkings kom in byna alles na vore, vertel Annette.
“Finansies, wat ‘n baie groot rol in almal se lewens speel, draai als om basiese wiskundige bewerkings. ‘n Blitsige afronding van pryse en bymekaartel om seker te maak jy het genoeg geld om alles wat jy nodig het te koop, vereis dat jy wiskunde kan doen en verstaan.”
Die curriculum het ‘n paar jaar terug verander en wiskunde in twee gedeel naamlik wiskunde en wiskunde geletterdheid.
Annette verduidelik die basis van albei vakke is dieselfde, en jy moet basiese wiskundige bewerkings kan verstaan.
“Wiskunde na gr. 9 raak meer abstrak en vereis kreatiewe, logiese redeneringsvermoë. Wiskunde geletterdheid het ten doel om algemene wiskunde vaardighede te kweek vir ‘n persoon se daaglikse uitdagings in hulle lewe.”
Annette spits haar toe op die bevordering van die onderwys in die beste belang van kinders.
“Alhoewel ons daaglikse lewe besig is om meer tegnologies georiënteerd te raak, glo ek daar is nog steeds plek vir die praktiese klaskamer se hands on doen-en-voel-dit-self aktiwiteite. Ons sien dat in die toekoms robotte en masjiene die mens op vele gebiede kan vervang en die jeug moet hiervoor voorberei word. ‘n Goeie fondasie moet gelê word aangesien ‘n huis sonder ‘n stewige fondasie met moeite staande gaan bly.”
Een van die groot uitdagings wat Annette ervaar is om leerders te probeer oortuig daar is iets soos survival of the fittest.
“Om kinders te probeer oortuig dat goeie geleerdheid daaglikse harde werk vereis, sodat genoegsame kennis vir die vakgebied waarin hulle verder wil spesialiseer bymekaargemaak moet word, bly onderwysers se grootste uitdaging.”




