News

Limpopo dowe professionele jagter – ‘n 1ste vir Suid-Afrika

André is doof gebore, maar dit keer hom geensins om sy passie vir jag uit te leef nie, “Ek is bewys dat 'n dowe mens suksesvol in die jagbedryf kan wees.”

POLOKWANE – ‘n Mens sou dink dat goeie gehoor ‘n voorvereiste is om ‘n beroep soos dié van professionele jagter te beoefen, maar André Botes bewys die teendeel.

André is doof gebore en het sy skoolloopbaan aan die Transoranje Skool vir Dowes voltooi. Sy liefde vir jag het reeds in 1992 begin.

“My stiefpa het ‘n plaas in Botswana gehad waar ek in die skoolvakansies gewerk het en so in die veld grootgeword het. ‘n Familievriend het my ook die kans gegee om te jag. In 2017 het ek ‘n kursus vir leerling-professionele jagter in Mookgophong voltooi,” vertel hy.

Nog ‘n familievriend het hom verder opgelei en die nodige kennis van die jagbedryf oorgedra – van die gebruik van strikke en karkasverwerking tot praktiese veldwerk. Vandag besit André sy eie onderneming, Blackbuffsafaris, waar hy jaggeleenthede bied. Met sy vaardighede help hy kliënte om topgehalte trofeë te bekom en ‘n onvergeetlike ervaring in die veld te beleef.

André se gestremdheid, soos hy dit self noem, keer hom geensins om sy passie uit te leef nie. Hy is verloof aan Elizabeth Evans, wat ook doof gebore is. Alhoewel hulle albei dieselfde skool bygewoon het, het hulle eers later deur sosiale media ontmoet.

“Ek het twee kinders, albei horend. My dogter, die oudste, verstaan maklik gebaretaal en ons kommunikeer goed. My jongste, ‘n seun, is bietjie skaam om tekens te gebruik en verkies eerder om lippe te lees,” vertel Elizabeth.

André verduidelik hoe hy met ander kommunikeer: “Soms verstaan mense my as ek praat, maar wanneer hulle sukkel, gebruik ek geskrewe kommunikasie. Ek het op skool gebaretaal geleer en dit is steeds my primêre manier van kommunikasie. Ek droom daarvan om my ervarings as jagter op film vas te lê. Ek is immers die eerste dowe professionele jagter in Suid-Afrika”.

Elizabeth stem saam dat daar soms misverstande met horende mense is. “Ek praat baie sag en dit maak dit moeilik vir hulle, maar baie probeer regtig om mooi te luister en geduldig te wees. Met dowe mense is dit natuurlik en maklik, ons verstaan mekaar sommer vinnig.” André sê dowes word dikwels verkeerd verstaan. “Dit kan frustrerend wees om dinge met tekens te verduidelik as iemand nie gebaretaal ken nie. Mense dink ook ons stemme klink vreemd, maar dit is bloot omdat ons onsself nie kan hoor nie.”

Volgens hom is dit elkeen se keuse om gebaretaal te leer, maar dit sou ‘n groot verskil maak as meer mense dit wel aanleer.

“Ek wens dowe mense kon meer groot besighede besit en suksesvol bestuur. Selfs al is ek doof, kan ek toesig hou oor personeel, wild slag en verwerk, kliënte ontvang en versorg, permitte en lisensies administreer, en bowenal sorg dat elke kliënt veilig en tevrede is. Ek moet hulle soms motiveer in moeilike oomblikke, hul ervaring op film vasvang, en hul trofeë vervoer.

“Ek is bewys dat ‘n dowe mens suksesvol in die jagbedryf kan wees.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button