Local News

Skenkers reik uit na boere in nood

AfriForum en die familie-organisasie Saai is maar twee van die instansies wat verlede week ingegryp het om hulp te verleen aan boere wat deur die verwoestende brande in die Polokwane/Zebedielagebied geteister is.

POLOKWANE – Ongeveer 30 000ha het afgebrand en meer as 2 000 beeste en bokke asook 1 900 wild het in die slag gebly, terwyl ten minste 17 boere die negatiewe impak van dié brande eerstehands beleef het. Een van die grootste behoeftes was voer.

AfriForum en Saai het ‘n vragmotor gereël en 360 bale voer na die brandgeteisterde gebiede aangery.

“Die gemeenskap is dinamies en niemand moet hulle onderskat nie. Daar word reeds ‘n tweede rit met nog meer voer vir verligting vir die diere en boere beplan. Indien meer van die gemeenskap betrokke wil raak, kan hulle ‘n donasie maak,” sê Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg.

Hy het aangedui dat donasies baie welkom sal wees aangesien die probleem nie gou opgelos sal word nie. “AfriForum NPC se rekeningnommer by Eerste Nasionale Bank is 623 498 98398 (Takkode 261 550) en die verwysingsnommer is Brande in Limpopo,” sê Van der Walt.

Agri Letaba se administrateur, Naomi Excell, het ook bevestig dat ruim skenkings van Vleissentraal Bosveld, Santam, Agri Limpopo en ander individue ontvang is, maar dat die nood steeds hoog is.

“Ons ontvang ook gereeld vragte skille van Granor Passi in Polokwane en elke bietjie maak ‘n verskil,” het Excell bevestig.

Kobus de Lange, een van die boere wat die insameling van voer koördineer, het versoek dat voer voortaan by die plaas Frischgewaagd buite Polokwane afgelewer moet word aangesien die bedreiging van bek-en-klouseer die vorige versamelpunt ‘n minder gepaste plek gemaak het. Hy kan by 084 710 3728 gekontak word om die nodige reëlings vir die aflewering van voer te tref.

Lees ook: Boere benodig bystand na veldbrande verwoesting saai

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button