Nóg kruise geplant om Limpopo boere te onthou
Volgens die huidige statistieke is daar alreeds 2 575 kruise op die berg wat tydens die plant van nuwe kruise onderhou word.
MOKOPANE – Die jaarlikse Witkruismonument opgraderings het op 3 September langs die N1 tussen Mokopane en Polokwane plaasgevind, waar die boeregemeenskap nog wit kruise geplant het.
Vanjaar is daar 34 nuwe wit kruise geplant vir boere wat vanaf Augustus 2021 tot Augustus 2022 vermoor is.
Die dag het begin deur die opdaag van die perdekommando, waarna daar geopen is met ‘n skriflesing en gebed, asook al die bedankings wat gedoen was.
Daar is hulde gebring aan Barend Pienaar wat in 2021 oorlede is, Pienaar was al die jare ‘n groot ondersteuner van die Witkruismonument.
Met vanjaar se opgraderings is daar ‘n brons-beeld opgerig wat die boer en sy vrou verteenwoordig.
Met al die verrigtinge wat plaasgevind het was die opkoms en belangstelling van die gemeenskap baie teleurstellend.
“Ek het nou nie die mense getel nie, maar ek dink daar was so 100 mense,” vertel organiseerder Lita Fourie.
Sy is al jare lank betrokke by dié dag, en elke jaar raak die belangstelling al hoe minder, sê sy.
Fourie bedank al die mense wat wel die dag ondersteun het asook haar span wat elke jaar help met die verf en skoonmaak van die kruise en die ontbossing.
Die volgende voorlopige datum vir die Witkruismonument opgradering is vanaf 1-3 September 2023.




