Two Spoons: Twee boeties, baie planne
Dié tweelingbroers moes aan 'n manier dink om geld in te samel, en het vinnig besef twee koppe is beter as een as dit by besigheid kom.
POLOKWANE – Valken en Vos Nel-Fouché het sommer vroeg besluit dat hulle nie op hulle gaan laat wag as daar iets is wat hulle wil hê nie.
Die tweeling het in die grendeltyd baie tyd op hulle hande gehad, en wou baie graag ‘n afstandbeheervliegtuig hê om mee te speel.
Hulle ouers het dié gulde geleentheid aangegryp om hulle te leer van werk vir hulle geld en dit dan te spaar.
Die twee gr. 2-leerders van Oosskool het besef hulle sal iets moet doen om die geld in te samel en so het hulle hul besigheidsvernuf gedurende die grendeltyd ontdek.

“Hulle het eers begin om koekies te bak wat volgens tema versier is, soos met besighede se name op. Dié kan die besighede weer uitgee aan kliënte,” vertel hulle ma, Celeste.
Sy voeg by dat hulle eendag met bulletjie rugby ou vriende raakgeloop het, en so het seuns se droë vrugte projek ontstaan.
“Ons kry die mango ribbons, mango bites en gedroogde naartjie happies van ‘n boer in Limpopo en dan verpak die seuns dit, weeg dit en plak plakkers op.”
Oor die boeties se besigheidsnaam, sê Celeste dit is ook afkomstig van die grendeltyd.
“Die kinders in die kompleks het gereeld saamgespeel en vir Vos teaspoon genoem. Ons het met name gespeel tot ons op ‘Two Spoons’ afgekom het.”
Celeste het met Riaan Piek van Spar Platinum Park gereël om ‘n stalletjie verlede Vrydag in die winkel te hê waar Vos en Valken hulle produkte bekend kon stel.
“Ons is baie dankbaar vir hierdie geleentheid,” sê sy.

Die geld wat hulle tot dusver gemaak het, het hulle neergesit vir ‘n deposito vir ‘n afstandbeheervliegtuig.
Elke rand wins wat hulle maak, word by die vliegtuigfonds gevoeg.
Vos en Valken deel dalk ‘n verjaarsdag, maar die twee verskil hemelsbreed van mekaar, veral as dit by besigheid kom.
Vos verkies om eerder agter die skerms te werk en erken dit is soms uitdagend om elke keer of die heeltyd vir mense te glimlag.
“Ek hou die meeste daarvan om die geld te kry en te spaar. Wanneer ek groot is wil ek graag ‘n winkel in Amerika gaan oopmaak,” verduidelik Vos.
Valken geniet dit veral om die plakkers op die pakkies te plak, maar om die gedroogte vrugte in die sakkies te pak is nie altyd so lekker vir hom nie.
“Ek weet nog nie wat ek na skool wil doen nie. Dit is nog lank,” vertel Valken
Beide seuns hou van vliegtuie en daarom het hulle besluit om saam vir die afstandbeheervliegtuig te spaar.
Dié woelwaters neem ook nog deel aan rugby, hokkie, tennis en stoei.
Vos speel graag met sy honde terwyl Valken sy tyd bestee om vliegtuie te teken as hulle nie besig is met skool of die besigheid nie.
Indien lesers vir Vos en Valken wil ondersteun, kan hulle vir Celeste WhatsApp op 082 785 0322.




