CrimeLocal News

Bekende prokureur en voormalige parlementslid by sy huis vermoor

Dit word wyd vermoed dat Schalk Pienaar (69) ten tye van sy dood besig was om ongerymdhede rakende die plaaslike munisipaliteit te ondersoek.

MOKOPANE – Die plaaslike gemeenskap is vandeesweek tot stilstand geruk na die koelbloedige moord op die bekende prokureur en voormalige parlementslid, Schalk Pienaar (69) Maandag by sy huis in Chroompark.

Hy is omstreeks 18:30 op ‘n kort afstand geskiet.

Pienaar was in 1987 `n kandidaat vir die Konserwatiewe Party toe hy as parlementslid vir die destydse Potgietersrus verkies is voordat hy hom in 1994 op sy prokureurspraktyk in Mokopane begin toespits het.

Dit word wyd vermoed dat hy ten tye van sy dood besig was om ongerymdhede rakende die plaaslike munisipaliteit te ondersoek, waar talle hooggeplaasde amptenare onlangs van bedrog of korrupsie aangekla is.

Die provinsiale polisiekommissaris, Luitenant Generaal Thembi Hadebe, het in ‘n persverklaring gesê ‘n spoedige ondersoek is gelas om die skuldiges aan die pen te laat ry.

Volgens polisie-inligting was Pienaar saam met sy vrou, Fransie, tuis toe die voorval gebeur het.

“Ons voorlopige ondersoek wys dat hy verskeie kere geskiet is. Dit wil voorkom asof hy probeer het om terug in die huis in te hardloop, maar hy het op die toneel ineengestort.”

Hadebe het bygevoeg dat verskeie patroondoppies voor en binne die motorhuis gevind is.

“Die oortreders moet gevind word sodat geregtigheid kan geskied. Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om te help met enige inligting wat kan lei tot die aankeer van hierdie gesiglose misdadigers,” het hy gesê.

VF Plus-LPW en provinsiale leier, Marcelle Maritz, ‘n jarelange vriendin van Pienaar, het haar skok uitgespreek na die voorval en gesê dit is jammer dat so ‘n steunpilaar in die gemeenskap nou ook deel van die land se misdaadstatistiek geword het.

Die familie het teen druktyd nog nie kommentaar kon lewer nie, maar medelye stroom steeds in op sosiale media.

Een daarvan is die inskrywing van Christo Smith, ‘n vriend van die familie:

“Schalk Pienaar was my reisgenoot deur die lewe. In 1973, toe ons ontmoet het, was ons beide idealistiese regstudente met groot politieke drome. Hy het my sedert daardie jare gementor in die kuns van oratorskap, analitiese denke en die deurdink van ‘n lewens- en wêreldbeskouing. Sy optrede was altyd gewaarmerk deur onkreukbare integriteit. Hy is gekenmerk deur sy deeglikheid en diensbaarheid aan sy kliënte en sy onverpoosde soeke na die waarheid. Ons treur en rou saam met die familie, sy vrou, dierbare Fransie, die kinders en kleinkinders. Julle kan trots wees op ‘n wonderlike pa en oupa wat in elkeen van julle iets baie spesiaals en blywends gedeponeer het. My beste vriend, dit is vir my ondenkbaar om jou te groet. Jy was waarlik ‘n egte volks- en sielsgenoot.”

Enigeiemand wat inligting het oor die voorval word versoek om die Mokopane polisie se takbevelvoerder,  Luitenant Kolonel Smit by 082 451 7213 te skakel, of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111, die naaste polisiestasie the besoek of deur gebruik te maak van die MySAPSApp.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button