Die 14de Byjol beslis nie die laaste nie
Die organiseerders het talle motorfietsryers van heinde en verre in Roedtan verwelkom en die goeie nuus gedeel dat dié fees nog lank gaan bly.
LIMPOPO – Sowat 200 motorfietsryers het die naweek groot geraas gemaak op die perseel van Laerskool Bysonderheid op Roedtan tydens die jaarlikse Byjol.
Vanjaar was dit die 14de Byjol en daar was sprake dat dit ook die laaste een sou wees maar dié gerugte is gou in die kiem gesmoor.
Die organiseerders het die nuus gebring dat die Byjol volgende jaar voortgaan maar dat daar van persele verander word.
Die jaarlikse Byjol word deur motorfietsryers van heinde en verre bygewoon om die skool se geldkoffers aan te vul.
Die organiseerder, Lizelle Pienaar, sê daar is vanjaar ongeveer R30 000 ingesamel.
Motorfietsryers het reeds van Vrydag af bymekaargekom om deel te hê aan die massarit deur die dorp en pret Saterdag.
Tydens die toutrekkompetisie het die manne behoorlik die spiere laat bult terwyl die vroue danspassies uitgevoer het tydens dié kompetisie.
Daar was ook motorfietsryers wat nie op hulle laat wag het om die boepense ten toon te stel tydens die Mnr. Boepens-kompetisie en die vroue in die Mev. Byjol-kompetisie nie.
Verskeie wenners is aangewys; wie het die mooiste motorfiets, wie kan die grootste geraas maak en die enjins het behoorlik gebrul?
Dan was daar ook ‘n prys vir die motorfietsryer wat die verste gery het om die geleentheid by te woon en ook vir die oudste ryer.
Vir nog meer gees het die motorfietsryers mekaar uitgedaag op skopfietse terwyl die gaste die ywerige bestuurders aangemoedig het.
Later die aand is daar lekker saamgekuier om die braaivleisvuur.
Daar is ook vanjaar geld ingesamel vir Janus van der Westhuizen, ‘n Roadhogs-lid van Polokwane wat onlangs in ‘n motorfietsongeluk betrokke was.
Janus het sy been gebreek en infeksie opgedoen.
Die mediese koste is redelik hoog aangesien hy nog ‘n operasie moet ondergaan.
Tydens die naweek se Byjol is daar R5 480 vir Janus ingesamel.
Om die naweek meer spesiaal te maak was daar ook vier motorfietsryers wat weens motorfietsongelukke ledemate verloor het en een wat in die onderlyf verlam is, op hulle ysterperde.
Die naweek is afgesluit met ‘n kerkdiens waarna die motorfietse teruggekeer het na hulle onderskeie dorpe.












