‘Ma’ Mari Buitendag laat groot leemte agter in Polokwane
Tannie Mari was welbekend in die gemeenskap, en kon as 'n regte 'moederhen' vir almal in haar lewe beskryf word.

POLOKWANE – Tannie Mari Buitendag, wat in die ouderdom van 74 onlangs aan kanker oorlede is, was welbekend in die gemeenskap.
Haar hande, wat vir niks verkeerd gestaan het nie, was oop vir die mense om haar.
Sy is in Polokwane gebore en het hier groot geword.
Na skool het sy haar verpleegopleiding by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal voltooi en by verskeie plekke gewerk.
Dertig jaar gelede het sy en haar man, Gert, Mizpah Motor Trimmers begin en tot kort voor haar dood by dié maatskappy gewerk.
“My ma was ‘n ystervrou, ‘n moederhen wat almal onder haar vlerk geneem het. Daar was niks wat sy nie kon doen nie en sy het altyd ‘n plan of oplossing gehad,” het haar dogter, Wanda gesê.
“Na my skoonseun José se dood in 2021 en Zaskia, my dogter, wat verongeluk het in 2020, was die dood van my broer in Augustus ‘n skok. Toe my ma sy lyk sien het sy ‘n ligte beroerte gehad. Sy het altyd van hoofpyn gekla en ons het haar dokter toe gevat. Hier het die dokter gevind my ma het ‘n groot gewas op haar regterbreinlob. Die gewas was glo al ‘n geruime tyd daar.”
Die woord ‘moederhen’ is die beste beskrywing vir Mari.
Selfs haar werkers by Mizpah het na haar as ‘ma’ verwys.
“Sy het gereeld vir mense geld gegee en almal se hartseer in haar hart gedra. Sy was ongelooflik hardwerkend en was lief daarvoor om seker te maak die mense om haar eet. Haar kleinkinders en agterkleinkinders was haar wêreld. Sy het my geleer om nederig te wees en sterk te bly staan terwyl ek op my knieë bly.”
Mari se seun, Jaco Potgieter sê daar is min dinge wat hulle nie by Mari geleer het nie.
“Sy het ons geleer a spade is a spade en blou is blou. Ek is vandag wie ek is, want wie wil nie soos ‘n ouer wat net ongekende liefde vir almal gehad het, wees nie? Sy was almal se ma en ek moes leer om my ma met ander te deel. Loop ek in die dorp of waar ek ook al gaan, sal iemand vra hoe gaan dit met my ma. Maak nie saak wie jy is, watter ras of geloof jy is nie, bloed by my ma was dieselfde kleur. Almal van ons is kinders van God, respek word verdien, nie forseer nie. Dit is my ma.”
Mari word oorleef deur haar man, Gert, kinders, skoonkinders, kleinkinders, agterkleinkinders en al die ander wat soos kinders in haar hart was.
Haar roudiens is op 31 Oktober gehou.




