Local News

Help nie-winsgewende organisasies om behoeftiges by te staan

In Mokopane het die goeie Samaritane by Touch of Helping Grace en die SAVF só jou hulp nodig om plaaslike behoeftiges te ondersteun.

MOKOPANE – “Liefdadigheid begin by die huis en as ons nie het nie, kan ons nie gee nie,” het Hester Nieman van Touch of Helping Grace gesê.

Die nie-winsgewende organisasies Touch of Helping Grace en die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) het donasies dringend nodig aangesien armoede daagliks in en om die dorp toeneem.

“Ons probeer projekte van die grond afkry en sodoende geld te genereer om die basiese voedselprodukte te koop om aan mense se behoeftes te voorsien, maar ons kan nie voorbly nie. Ek sien hoe die behoefte en die werkloosheidsyfer daagliks styg. Ek en my man gee gereeld items uit ons koskas uit vir gesinne wat desperaat is vir kos,” vertel Hester.

Sy voeg by dat haar grootste bekommernis die bejaardes en kinders is.

Hester het tans 45 gesinne wat elke tweede week ‘n ‘oorlewingspakkie’ ontvang.

Die oorlewingspak bestaan uit blikkieskos soos vis en gebakte boontjies, rys, mielies, pasta, suiker, tee, konfyt, soppakkies en ook skoonmaakmiddels.

Daar is projekte in die pyplyn wat vroeg volgende jaar afskop waar Touch of Helping Grace arm gesinne wil leer om self ‘n inkomste te genereer.

Hester sê dat die organisasie ook ‘n liefdadigheidswinkel van die grond afgekry het waar inwoners allerlei artikels teen bekostigbare pryse te koop kan vind.

Touch of Helping Grace se volgende projek is op 10 Desember waar 75 kinders ‘n kerspakkie gaan ontvang, maar om die projek te laat realiseer benodig sy die hulp van die gemeenskap.

Hester vra donasies van speelgoed en tienergeskenkpakkies.

“Enige skenking is welkom om ‘n kinderhartjie of selfs ‘n bejaarde se dag op te helder.”

Maatskaplikewerker van die SAVF, Teretha Jannasch doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te ondersteun.

Sy sê dat die vraag na voedsel daagliks styg namate werkloosheid voortdurend toeneem en daar nie genoeg skenkings is om aan die eise te voldoen nie.

“Daar is elke week nuwe gesinne wat hulp nodig het as gevolg van óf afleggings, besighede wat sluit óf salarisse wat gesny is. Besighede word erg geraak deur die voortdurende veranderinge en dit het ‘n enorme uitwerking op almal in die gemeenskap.”

Die situasie by SAVF is min of meer dieselfde as by Touch of Helping Grace, en hulle moet weekliks sowat 32 gesinne bystaan.

“Die weeklikse skenkings wat ons ontvang het afgeneem. Ons hier by die SAVF se prioriteit is gesinne met kinders.”

Die voeding van kinders is uiters belangrik,” het Teretha bygevoeg.

Sy sê die SAVF se grootste uitdaging is finansies.

“As ons die nodige finansies het, kan ons kos koop om behoeftiges by te staan, petrol in ons bakkie gooi en donasies by ons skenkers afhaal.”

Om die organisasies by te staan, skakel vir Hester by 078 654 4748 of die SAVF by 015 491 3149.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button