Anke vertel van Drome, gedigte en dierbare gesigte
Anke Weideman het onlangs haar laaste eksamen by CVO Potgietersrus Skool afgelê, en spog reeds met haar eerste digbundel.
MOKOPANE – Anke Weideman, ‘n gr. 12-leerder van CVO Potgietersrus Skool, se gedigte wat sy ingeskryf het vir ‘n kompetisie, pronk nou in ‘n digbundel.
Bosveld het by haar gaan inloer en gehoor hoe sy met haar eerste digbundel begin het.
Weideman het verlede week haar laaste eksamenvraestel geskryf, en vertel dat dit verskriklik lekker is om klaar te wees met skool.
Vir 12 jaar was sy agter die skoolbanke, en dit is al wat sy geken het.
Sy het vanjaar net op haar matriek gefokus en gesorg dat sy goeie punte in haar eksamens behaal.
Sy gaan volgende jaar, BSc by Tuks swot, want haar droom is om in die mediese veld te werk.
Weideman se passie vir skryf kom van lees af, haar ouers het van jongs af vir haar storieboeke gelees en sy was ook in Tina Cowley leessentrum.
“Lees en skryf gaan hand-aan-hand, en dit is waar my passie vir skryf vandaan kom. Ek het my eerste gedig in gr. 1 geskryf en dit ingeskryf vir die GHA gedigkompetisie. Dis toe dat die skryfgogga my gebyt het,” vertel Weideman.
Haar inspirasie kom van verskillende plekke af en daar is natuurlik ‘n paar skrywers waarna sy opkyk.
Sy hou daarvan om dinge in ‘n ander perspektief te sien.
“As jy ‘n digter of ‘n skrywer is dan kyk jy met ander oë na die wêreld, jy sien nie mense nie, jy sien stories en dan vang jy dit vas.”
Haar digbundel se titel is Drome, gedigte en dierbare gesigte.
Van die gedigte gaan oor haar skoolloopbaan, van dit gaan oor die mense waarmee sy paaie gekruis het, en van dit gaan oor die ervarings wat sy in haar lewe gehad het.
Weideman het een van haar gedigte vir die GHA gedigtekompetisie ingeskryf, en haar gedig is in die Stemme uit die Suiderland – Ons eie Bloemlesing gepubliseer.
Sy en haar ouers het die glansgeleentheid bygewoon en daar gehoor dat Groep 7 Drukkers, elke jaar pryse vir ses digters gee om hulle eie digbundel te publiseer, en Weideman se gedig was een van die gelukkige wenners.
Sy is baie opgewonde en dankbaar vir Groep 7 Drukkers wat haar die geleentheid gegee het om haar eie digbundel uit te bring.
Sy beplan nie om nou dadelik nog ‘n digbundel te skryf nie, maar sy is tans besig om aan haar eerste boek te werk.
Sy vertel dat sy omtrent 70 gedigte al geskryf het, en daar is ook baie gedigte wat sy begin het, maar nooit klaargemaak het nie.
Sy skryf nie net gedigte nie, maar ook kortverhale.
Sy het op skool by die Nyala Nuus koerant gehelp en daar ‘n paar artikels ook geskryf.
“Om jou eerste digbundel vas te hou is ‘n ongelooflike gevoel, dit sink nie dadelik by jou in dat jy sopas ‘n digbundel met jou eie werk geskryf het nie, dit is ‘n wonderlik gevoel.”
Haar digbundel is in 2021 vrygestel, maar sy het die digbundel eers hierdie jaar ontvang.
Belangstellendes kan haar kontak by 060 976 5648 of die digbundel by Honeyball se Kersmark wat 10 Desember plaasvind koop.
Haar raad aan ander wat ook ‘n digbundel wil uitbring is: “bly getrou aan jouself en werk hard, mense wil soms iets anders hoor, maar dit wat jy skryf en dit wat hulle wil hoor is nie altyd dieselfde nie, so skryf wat jy voel, skryf dit vir jouself. Raak betrokke by kompetisies, sodat mense jou werk kan raaksien en jou kan help.”




