Groot pret by Kleinbegin se opedag
Tussen al die prettige aktiwiteite, soos bak en brou en om jou gesig te laat verf, het kleuters en ouers meer geleer van Kleinbegin Pre-primêre Skool.
MOKOPANE – November 18 was die perfekte geleentheid vir kinders om te speel, nuwe maatjies te ontmoet en nuwe dinge te leer.
Dit was tyd vir Akademie Reformia se Kleinbegin Pre-primêre Skool se opedag en alle voornemende leerders en hulle ouers was uitgenooi om die dag vol prettige aktiwiteite saam te geniet.
Dié dag was ‘n eerste van sy soort en is gereël met die doel dat ouers en kinders albei ‘n idee kan kry van hoe ‘n normale dag by die skool sal lyk en ook om meer uit te vind oor watter aktiwiteite aangebied word.
Uitstallers was reg om alle vrae te antwoord oor ballet, natuurwetenskappe, rugby en gimnastiek vir die wat belangstelling gewys het.
Claudette du Plessis van Rugby Tots het vertel dat ouer kleuters en selfs kinders van 1-3 jaar by hulle welkom is.
“Ons het ‘n verskeidenheid programme om by elke kind te pas. Ons weeklikse sessies is die perfekte geleentheid vir seuns en meisies om in hulle ouderdomsklasse hulle fisiese en sosiale vaardighede te verbeter in ‘n prettige en positiewe omgewing,” sê Du Plessis.
Die besoekende kinders kon ook die huidige leerders van Kleinbegin ontmoet en só besluit of hulle hier gaan aard.
Lekker aktiwiteite soos gesigverf en bak en brou was die kersie op die koek op die gesellige dag.
Juffrou Alta Pretorius is gelukkig om te sien hoe goed die dag uitgedraai het en noem dat die opedag ‘n jaarlikse instelling sal word.
“Ons hou gereeld spesiale dae deur die jaar by skool, soos beroepsdae, pajama-dae en allerhade prettige dae wat die kinders help om op ‘n lekker manier te leer. Ons hou ook dié dae om die gemeenskap te wys hoe lekker dit is om te werk en te leer by ons. Ons het ander skole ook na die opedag genooi sodat ons onsself aan hulle kon voorstel en hulle wys wat ons hier by Kleinbegin doen,” vertel Pretorius.












