Local News

Medpark groet drie fenomenale vroue

Die Medpark-familie neem afskeid van die jaar en so ook van drie uitsonderlike werknemers wat vreeslik gemis gaan word.

POLOKWANE – Aan die einde van 2022 groet die dokters en personeel van Medpark drie van hulle kollegas wanneer René Mc Ivor, Shehidda Jantjies en Ina Venter vir die laaste keer by die voordeur sal uitstap.

Alhoewel die drie vroue verskillende funksies by dié praktyk verrig het, het elk op haar gebied ‘n groot verskil gemaak.

Ina Venter was vir 11 jaar deel van die Medparkspan waar sy as algemene suster gewerk het.

Voor die posisie by Medpark destyds oor haar pad gekom het, het sy by twee Mediclinic-hospitale gewerk.

“Vir nou tree ek vir eers uit verpleging uit, totdat daar ‘n nuwe uitdaging oor my pad kom,” vertel sy.

Haar werk het behels die neem van koors by babas, pasiënte se bloeddruk, sy het onder andere ook steke uitgehaal, en die span dokters met algemene take bygestaan.

Sy sien uit om met die bietjie meer vrye tyd die geleentheid te hê om meer dikwels naaldwerk te doen, of te bak aangesien dit iets is wat sy baie geniet.

Sy het dit veral geniet om met mense te werk.

“Ek sal die werkverhouding wat ek met my pasiënte, kollegas en werkgewer hier gehad het, altyd onthou.”

René Mc Ivor, wat op 16-jarige ouderdom reeds in ‘n apteek begin werk het, was vir 11 jaar lank by Medpark as ‘n assistentapteker werksaam, en sien nou daarna uit om na haar eie “huisie in die bos”, digby Jeffreysbaai, te verhuis.

“Vir my is pasiënte nie net nog ‘n nommer nie. Baie van hulle het vriende geword en om met hulle te gesels het vir my én hulle laat beter voel. Pasiënte sou dikwels op my nommer druk, nie vir medikasie nie, maar sommer net om te hoor hoe dit met my gaan. Ek sal dit altyd onthou.”

Shehidda Jantjies was vir agt maande deel van die Medparkspan – ook in die apteek – en sê sy is gereed vir ‘n nuwe uitdaging waar sy administratiewe werk by ‘n ander firma gaan verrig.

“Dit was altyd vir my lekker om te sien wanneer pasiënte gesond word. Ek hou daarvan om mense te help, en dit was lekker om te sien hoe pasiënte hier instap, gehelp word, en met ‘n glimlag hier uitstap.”

Volgens die Medpark-familie sal die goeie werk wat dié vroue verrig het, beslis gemis word.

“Dit is altyd moeilik om afskeid te neem wanneer werknemers weggaan. Die Medparkfamilie is ‘n hegte span, en ons sal hulle beslis mis. Namens almal by Medpark wens ons hulle alle voorspoed toe op hulle pad vorentoe,” het hulle in ‘n boodskap gesê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button