Rondloopkatte dalk ‘n aanwins, al word geen diere toegelaat nie
Susan Smith van Urban Feral Cats verduidelik hoekom rondloopkatte eerder net gesteriliseer moet word, eerder as om hulle uit die omgewing te verwyder.
POLOKWANE – Nie almal hou van diere nie.
Party mense is tevrede om hulle hele lewe deur te gaan sonder om die liefde van ‘n troeteldier te ontvang, en daar is niks daarmee verkeerd nie.
Ander mense kan weer nie hulle lewens sonder ‘n troeteldier indink nie.
Gewoonlik pla die menings van die een soort mens nie die ander nie, maar soms gebeur dit dat ‘n mens moet trek na ‘n plek waar diere nie welkom is nie, soos na ‘n ouetehuis of aftreeoord.
Die redenasie agter die reël van geen troeteldiere is verstaanbaar.
Jou klein liefie-hond blaf dalk vir voëltjies en stappers en dit pla jou buurman wat graag ‘n rukkie wil slaap; óf jou kat, wat elke aand by jou voete slaap, hou daarvan om sy omgewing te verken en gaan kuier graag deur die dag by jou buurman wat vreeslik allergies is.
Daarom trek die troeteldiere nie saam nie, maar wat van die rondloopkatte wat alreeds hulself tuis op die terrein maak?
Dié katte is steeds nie mak nie en sal nie sommer in ‘n huis ingaan nie, alhoewel ‘n paar inwoners dit dalk hulle werk maak om vir die viervoetiges kos te gee.
Hulle kan selfs as behulpsaam beskou word op die perseel waar hulle van die rotte en moontlike slange ontslae raak.
Oor die algemeen is hierdie mens-sku katte glad nie ‘n probleem nie, behalwe vir wanneer hulle gereeld babatjies kry.
Baie mense dink die oplossing vir hierdie katte is dan om hulle uit die omgewing waar hulle bly, weg te vat.
Susan Smith van Urban Feral Cats sê dit is een van die grootste foute wat ‘n mens met hierdie katte kan maak.
“As jy katte vanuit ‘n area te verwyder, gee jy net vir ander wilde katte die kans om daar in te trek. Dus het jy heeltyd ‘n toevloei van katte, asook babakatjies wat gereeld gebore word. Dit is beter om die katte te TNR, wat beteken hulle word menslik gevang en gesteriliseer, en weer in hulle eie area te gaan vrylaat. Katte leef waar hulle veilig voel en kos kry. ‘n Mens kan tot vir hulle spesiale eet- en slaapplekke inrig waar hulle nie die inwoners kan steur nie.”
Wilde katte is ook ‘n goedkoop manier van plaagbeheer aangesien hulle muise vang.
Muise en rotte trek slange aan, so as daar wilde katte is, is die kans vir slange in die omgewing baie skraal.
Susan sê Urban Feral Cats neem nie katte in vir aanneming of pleegsorg nie aangesien meeste van die katte nie in huise sal aanpas nie.
Hulle verwyder ook nie katte uit die omgewing nie, omdat daar net weer nuwe ongesteriliseerde katte hulself sal tuismaak.
Al die katte wat gesteriliseer word, word weer in hulle bekende omgewing vrygelaat.
“Ons merk elkeen van die katte wat ons vang en laat steriliseer met ‘n eartip, wat beteken dat die punt van een van die ore wat afgesny word onder narkose, sodat ons weet watter katte ons nog nie gevang het nie. Ons werk met donasies en kan dus nie baie doen en ‘n groot groep katte gelyk laat regmaak as ons nie fondse ontvang nie.”
Baie mense glo hierdie katte kan ‘n aanwins wees vir enige perseel as hulle reg bestuur word, en moet eerder net gehou word waar hulle is.




