Jou lyf het iets van alles nodig, sê dieetkundige
Polokwane Review het met dieetkundige Anke van Waveren gesels om wenke te kry om steeds 'n gesonde leefstyl tydens die feesseisoen te handhaaf.
POLOKWANE – Daar is talle mense wie se nuwejaarsvoorneme elke jaar is om gesond te begin leef en meer aktief te raak.
Vir die eerste week in Januarie kry meeste mense dit reg, maar van hier af begin mense uitval en teen Desember is daar net ‘n klein handjievol vasbyters oor wat kon hou by hulle voorneme.
Nou, in Desember begin die versoekings meer en meer raak.
Jaareindfunksies, kerspartytjies en natuurlik die heerlike kos op Kersdag toets behoorlik die selfdissipline en uithouvermoë.
Hoe hou ‘n mens by jou gesonde eetgewoontes en aktiewe leefstyl waaraan jy heel jaar gewerk het en nou met al die versoekings geterg word?
Polokwane Review het met dieetkundige Anke van Waveren gesels om raad te kry:
• Doen elke dag ‘n fisiese aktiwiteit wat jy geniet. Gaan stap met die honde of gaan ry fiets saam met jou kinders.
• Eet stadig en geniet jou etes. Wees bewus van die ervaring, soos gesellige kuiers saam met geliefdes, eerder as wat en hoeveel jy eet.
• Beplan die etes en stel ‘n inkopielys saam. So kan jy altyd seker wees dat daar ‘n gesonde opsie byderhand is om te eet.
• Moenie maaltye oorslaan, of sekere kosse uitsny nie. Wanneer jy jouself ontneem van etes of sekere kosse kan dit veroorsaak dat jy jou daaraan vergryp wanneer dit beskikbaar is en daarna skuldgevoelens hê wat kan lei tot verdere vergryping van dié kosse.
• Ontbyt is die belangrikste ete van die dag. Eet ontbyt soos ‘n koning, middagete soos ‘n prins en aandete soos ‘n bedelaar.
• Drink elke dag genoeg water.
• Eet ‘n verskeidenheid kossoorte, probeer dat elke ete uit verskillende voedselgroepe bestaan. Elke kossoort speel ‘n belangrike rol in jou gesondheid en jy het van alles nodig – ja selfs ‘n roomys of sjokolade wanneer die lus jou beetpak.
• Geniet jou nagereg na ‘n ete wanneer dit bedien word. Om jouself daarvan te ontneem, kan veroorsaak dat jy net meer lus word en skelm daarvan gaan eet en meer as wat jy vroeër sou eet.
• Vermy geprosesseerde kosse soveel as moontlik, aangesien dit min tot geen voedingswaarde bevat nie.
• Bly besig, dan loer jy nie kort-kort in die yskas nie. Vra jouself af of jy iets eet want jy is honger, of eet jy uit verveeldheid uit? Dieselfde geld vir daardie tweede skeppie.




