Local News

Die kinderkliniek is gereed om ouer en kind by te staan

Die span by die kliniek bestaan uit 'n spraak- en taalterapeut, arbeidsterapeut en dieetkundige wat altyd gereed staan om te help waar hulle kan.

POLOKWANE – Nuwe mammas is geneig om bietjie paranoïes te raak wanneer dit by hulle pasgeborene kom.

Daar word oor elke kreun gewonder en daar is gewoonlik vele onnodige doktersbesoeke.

Polokwane Babakliniek is ‘n vroeë-intervensiekliniek met die doel om enige komplikasie of tekortkominge op ‘n vroeë ouderdom te bepaal en aan te spreek.

Dit sluit ‘n sifting deur ‘n spraak- en taalterapeut, arbeidsterapeut en dieetkundige in.

Dié drie terapeute wat deel is van die kliniekspan is Anke van Waveren (dieetkundige), Nicola van den Heever (arbeidsterapeut) en Wilmarie Human (spraakterapeut).

Review het met hulle gesels om uit te vind hoe ‘n mamma en baba kan baat deur van hulle dienste gebruik te maak:

 

1. Waarom sal ‘n baba van 0-1 jaar ‘n spraakterapeut, arbeidsterapeut of dieetkundige nodig hê?

Anke: ‘n Baba groei baie vinnig in die eerste twee jaar van hulle lewens. Hulle geboorte gewig verdubbel teen ses maande en verdriedubbel teen 12 maande. Hulle lengte verdubbel ook in die eerste jaar. Dit is ‘n tyd van groot veranderinge en aanpassings vir ‘n baba. Van net melk (verkieslik borsmelk) met geboorte tot ‘n gebalanseerde dieet op 12 maande. Dit is dus belangrik om ‘n baba se groei en ontwikkeling te monitor op hierdie jong ouderdom en ouers te lei met die regte inligting soos wat die baba se dieet verander om seker te maak dat hulle optimal groei en goed eet.

Nicola: ‘n Baba tussen nul en een jaar kan ‘n arbeidsterapeut benodig vir verskeie redes. Meeste van die tyd is dit wanneer mylpale nie op die veronderstelde tyd ontwikkel nie, soos wanneer die baba nie sit, kruip of loop op die verwagte ouderdom nie. Arbeidsterapeute kan ook waardevolle inligting deel wanneer ‘n baba sy of haar dag en nag ruil, sukkel om te eet en ons kan selfs wenke gee vir ouderdomtoepaslike stimulasie.

Wilmarie: Die eerste drie jaar van ‘n kind se lewe is die belangrikste tydperk vir spraak- en taalontwikkeling. 80% van brein ontwikkeling vind in dié tyd plaas. Terapie is ook meer suksesvol in die vroeë jare van ‘n kind se lewe. Daarom is dit baie belangrik om vroegtydig in te tree indien daar moontlike uitvalle kan wees. Hoe vroeër ‘n agterstand geïdentifiseer word, hoe vroeër kan verdere uitvalle voorkom word en kan die nodige behandeling begin.
Spraakterapie kan ook help wanneer die baba suig-, sluk- en voedingsprobleme het. In die vroeë-intervensieklinike leer ons ook vir die ouers hoe om die baba te stimuleer om optimale ontwikkeling moontlik te maak.

2. Wat behels die siftingstoetse wat julle doen?

Anke: Die siftingstoetse by die dieetkundige sluit in die weeg van gewig, meet van lengte en ook kop omtrek en bo-arm omtrek wat dan geplot word op die korrekte groeikaart om te verseker dat ‘n baba optimaal groei. Ons maak met ander woorde seker ‘n baba tel nie te min of te veel gewig op nie. Dieet inligting word dan ook met die ouers gedeel van wat om na op te let in ‘n baba se dieet, of watter veranderinge om te maak indien nodig.

Nicola: Tydens die sifting kyk die arbeidsterapeut na verskillende ontwikkelingsmylpale wat toepaslik is vir die baba of kind se ouderdom. Dit sluit in grof-motoriese vaardighede soos kruip, loop, balspeel en hardloop, asook fyn-motoriese ontwikkeling wat handfunksie insluit. Daar word ook gefokus op die ontwikkeling van speel en sosiale interaksie tydens die sessie, sowel as aktiwiteite van daaglikse lewe soos ‘potty training’, aantrek en tandeborsel. Ons kyk basies tydens die sifting of die baba/kind alles kan doen wat verwag word van hulle ouderdom. Indien ons sien dat die baba of kind met iets sukkel, gee ons wenke om daardie aspek te stimuleer of ons verwys die ouers na die toepaslike persoon wat daarmee kan help.

Wilmarie: Spraakterapiegewys fokus die sifting op die identifisering van uitvalle of agterstande met taal- en kommunikasie ontwikkeling, sluk en voeding, asook vroeë geletterdheidsvaardighede. Die spraakterapeut sal met die ouers gesels om inligting te verkry oor die baba se geskiedenis, huidige roetine en aspekte waaroor die ouers bekommerd mag wees. Die spraakterapeut sal dan die baba evalueer deur middel van informele spel om taal en kommunikasie vermoëns uit te lok, om die orale strukture en oraal-motoriese ontwikkeling te sien asook om voeding te observeer.

3. Waarna kan mamma kyk om te weet sy moet vir baba na julle toe neem?

Anke: ‘n Mamma kan haar baba se aantal nat en vuil doeke dophou om seker te maak hy of sy kry genoeg voedingswaarde in. Dis nie altyd moontlik om gewig en lengte met die oog te meet nie. Wanneer babas begin vaste kos eet kan ‘n mamma haar baba dophou vir enige allergiese reaksies en ook die tekstuur van die kos aanpas volgens ‘n baba se ontwikkeling en ouderdom.

Nicola: Dit is altyd goed om ‘n kind van enige ouderdom gereeld na ‘n kundige persoon te neem net om seker te maak dat alle ontwikkelingsaspekte op die standaard is wat dit moet wees – selfs al dink jy as mamma of pappa dat alles reg is. Die kinderkliniek is juis gestig sodat ons nodige raad aan ouers kan gee sodat kinders van ‘n jong ouderdom af op ‘n toepaslike manier gestimuleer kan word. Dit is ook nodig dat enige probleem so vroeg as moontlik geïdentifiseer kan word aangesien neuroplastisiteit beter is op ‘n jong ouderdom. Dit beteken dat dit makliker is om ‘n probleem aan te spreek wanneer die kind nog jonk is.

Wilmarie: Indien jou baba sukkel om te voed, hetsy borsvoeding of bottelvoeding, of die oorskakeling na vaste kosse kan ‘n spraakterapeut nodig wees. Indien jou baba teen vier maande nie begin babbel, of nie belangstelling toon in sosiale interaksie nie, moet jy hom ook na ‘n spraakterapeut neem.

Siftingstoetse word gedoen op die volgende ouderdomme:
• Ses weke.
• Drie maande.
• Ses maande.
• Nege maande.
• Een jaar.
• Een en ‘n ½ jaar.
• Twee jaar.
• Twee en ‘n ½ jaar.
• Drie jaar.

Volgens die kundiges is die ideaal as ‘n baba die kliniek kan bywoon vanaf geboorte tot op 36 maande, maar hulle kan op enige ouderdom inval met die besoeke.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button